SA wonderwerker se ‘kuierklub’ buit VSA-titel

Die Austin Huns as Amerikaanse kampioen. (Foto: USA Rugby)

Min mense sal dit anders as ʼn wonderwerk beskou om ʼn kuierklub binne ʼn enkele seisoen tot Amerikaanse kampioen op te hef.

Dis egter presies wat die gewese SA o.19- en Lions-afrigter, Eugene (Loffie) Eloff, vanjaar in Austin, Texas, vermag het.

Die plaaslike Huns, wat eerder as ʼn gawe kuierklub as ʼn bedreiging vir ander spanne beskou is, het die sesmalige Amerikaanse kampioen New York Athletic Club (NYAC) Saterdag in die eindstryd in Glendale, Colorado, op dramatiese wyse in ʼn skousplagtige wedstryd met 27-23 geklop.

Op die koop toe is die Amerikaanse toetsspeler Hanco Germishuys, wat Griekwas op die Laerskole-Cravenweek verteenwoordig het, as die waardevolste speler aangewys.

Die Huns was rustyd met 17-10 voor, onder meer danksy ʼn drie deur die agsteman, Deon Minnaar, ʼn oudleerling van die Hoërskool Montana in Pretoria.

ʼn Kwaai terugvegpoging van NYAC het daartoe gelei dat hy 12 minute voor die einde die voortou met 23-20 kon neem.
Die Huns het enkele minute voor die einde die wendrie gedruk – nadat Germishuys onder andere in die opbou daartoe drie verdedigers platgeloop het.

Dis die eerste keer dat die span van Texas, eweneens vanjaar se Red River-kampioen, die nasionale titel buit.

Eloff, onder wie se hand die SA o.19-span in 2003 en 2005 as wêreldkampioen gekroon is, se sukses is op deeglike vooruitbeplanning geskoei.

Hy het ʼn sterk afrigterspan saamgestel – wat die Suid-Afrikaners Danie de Villiers, Pedrie Wannenburg en JC de Wet insluit – ʼn gesonde spelerskorps gevestig, waarvan heelwat SA wortels het; en die peil van die klub se geriewe opgeskerp.

Bowenal moes hy ʼn wenkultuur by die klub skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Josua Keys ·

Loffie Eloff was nog altyd n puik afrigter en dit het hy bewys by die Leeus en Cats die probleem was net dat hy nie n tjekboek gehad het om spelers te koop nie anders was die Leeus lankal Currie beker kampioene gewees nog voor John Mitchel oorgeneem het. Ek hoop hulle nader hom om Johan Akermann op te volg want saam Swys en die res van die afrigting span sien ek steeds n toekoms vir SA Rugby!!!

Rupert Ashford ·

As daar enige moontlikheid is vir hom om in die VSA aan te bly sal hy mooi moet dink voordat hy so ‘n aanbod enigsens oorweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.