Saders se sege laat Lions se titeldroom vervaag

Warren Whiteley-hulle se titelhoop vervaag. (Foto GB Jordaan)

Dit lyk toenemend of ʼn tuiseindstryd en daarom ook Superrugby se groot prys vir die Lions net ʼn droom gaan bly.

Geen tuiseindstryd beteken, as die geskiedenis van die 21 jaar van Superrugby ʼn aanduiding is, ook geen titel nie. Nog geen span het oor die Indiese Oseaan gereis en ʼn eindstryd gewen nie.

Die span wat die meeste ligapunte het, ongeag in watter groep hy speel, sal tuis in die eindstryd van die Superreeks speel mits hy natuurlik ook die kwarteind en die halfeind wen.

Die Crusaders het met sy afgelope twee wedstryde teen Nieu-Seelandse spanne hulself in ʼn feitlik onaanvegbare posisie geplaas om al drie die uitspeelwedstryde tuis te mag aanbied.

♦  Crusaders het met Vrydag se oorwinning teen die Chiefs in Suva, Fidji, sy ligapunte na 54 opgeskuif.

Dit was ʼn taai wedstryd in die ware derby-tradisie van Nieu-Seelandse spanne. Saders het met 31-24 gewen nadat die Chiefs, met die laaste ingooi van die dag, nie die lynstaan vyf meter van die wenspan se doellyn kon bemeester nie.

Crusaders het nou drie wedstryde oor. Twee van hulle mag dalk hulle onoorwonne rekord ernstig toets, want hulle moet die Highlanders (tuis, in Christchurch) en die Hurricanes (weg, in Wellington) hokslaan nadat hulle die vloer met die Rebels in Melbourne behoort te vryf.

Crusaders het verlede week tuis hul eerste rondomtalie-wedstryd teen die Hurricanes gewen.

Wen hulle al drie die oorblywende wedstryde, selfs sonder enige bonuspunte, sal Crusaders op 66 ligapunte na hulle 15 wedstryde staan.

♦  Die Lions is tans, met 46 punte, tweede beste daaraan toe. Dit sal aan Warren Whiteley-hulle ten minste ʼn tuis-kwarteind en as hulle dan wen ook ʼn tuis-halfeind gee.

Dan durf die Lions egter nie teen die Bulls, of die Kings of Sunwolves (al drie wedstryde is op Ellispark) of die Sharks in Durban struikel nie, want die Chiefs (43 punte, ook met vier wedstryde oor) kan hulle nog verbysteek.

Die maksimum punte wat die Lions op die puntelys kan kry, met vier bonuspunte ingesluit, is ook 66 punte, maar hulle is boonop 88 punte slegter daaraan toe as die Saders wat betref punteverskil.

Opsommend: Om ʼn tuiseindstryd aan te bied, moet Crusaders verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.