Sage, Gans in Blitsbokke se span vir Australasië

Dylan Sage, kleinseun van die legendariese WP- en Springbokagsteman Doug Hopwood, is ná sy besering terug in die Blitsbokke se span vir Wêreldrugby se volgende twee sewestoernooie in Australasië.

Die sterk hardloper Sage het die toernooie in Dubai en Kaapstad weens ʼn rugbesering misgeloop. Dit was net ʼn kwessie van tyd voordat Sage, wat die afgelope twee jaar ʼn staatmaker geword het, weer deur Neil Powel gekies sou word.

Sage vervang Chris Dry, wie se harde werk gemis sal word. Dry is naas Frankie Horn die Suid-Afrikaner met die meeste sewestoernooie op sy kerfstok.

Stedman Gans is ook weer in die span. Hy vervang Branco  du Preez wat verlede week tydens ʼn oefening van die Blitsbokke ʼn dyspier beseer het.

Die WP en Stormers se losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe, wat groot indruk vir die Akademiespan gemaak het maar glo tot nou toe nog nie fiks genoeg vir sewesrugby was nie, is as plaasvervanger in geval van beserings in ʼn toernooi die dertiende lid van die Blitsbokke.

Hulle speel aanstaande naweek in Sydney in Wêreldrugby se sewestoernooi en die week daarna in Hamilton in Nieu-Seeland.

Die Blitsbokke se groep (toernooie, wedstryde, punte, drieë) –

  1. Tim Agaba (12 toernooie, 61 wedstryde, 50 punte, 10 drieë)
  2. Philip Snyman (kaptein – 49 toernooie, 219 wedstryde, 58 drieë, 321 punte)
  3. Dylan Sage (17 toernooie, 93 wedstryde, 100 punte, 20 drieë)
  4. Kwagga Smith (29 toernooie, 147 wedstryde, 300 punte, 60 drieë)
  5. Werner Kok (31 toernooie, 163 wedstryde, 365 punte, 73 drieë)
  6. Kyle Brown (60 toernooie, 297 wedstryde, 400 punte, 80 drieë)
  7. Stedman Gans (4 toernooie, 11 wedstryde, 5 punte, 1 drie)
  8. Rosko Specman (23 toernooie, 123 wedstryde, 288 punte, 52 drieë)
  9. Justin Geduld (32 toernooie, 164 wedstryde, 699 punte, 77 drieë)
  10. Cecil Afrika (55 toernooie, 285 wedstryde, 1335 punte, 160 drieë)
  11. Seabelo Senatla (35 toernooie, 179 wedstryde, 1015 punte, 203 drieë)
  12. Ruhan Nel (23 toernooie, 115 wedstryde, 202 punte, 40 drieë)
  13. Sikhumbuzo Notshe (Plaasvervanger) (0, 0)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.