Sagte Japanners sal maar sukkel tussen die grotes

japan-logo-comboNooit is `n baie lang tyd, maar ek weet nie of Japan binne die afsienbare toekoms saam met rugby se Groot Vyf sal gesels nie.

Die halfeindstryd van die Japanse liga is gister op SuperSport vertoon toe die Panasonic Wild Knights die Toshiba Brave Lupus met 50-15 geklop het.

Jimmy Stonehouse gaan binnekort (dalk is hy reeds daar) die Brave Lupus afrig en Frans Steyn het senter gespeel. Daar wag baie werk, sommer baie.

Ongeag die miljoene (jen) wat in Japanse rugby ingepomp word, ongeag die feit dat daar in die vier  topspanne in Japan meer as 40 internasionale spelers van ander lande speel, ongeag afrigters soos Eddie Jones, Gary Gold en Stonehouse wat daar afrig, is daar groot leemtes.

Die Japanse  spelers is weens hul gene en bou (en kultuur) nie fisiek genoeg nie en in elke span ontbreek daar `n “enforcer” of twee. Hulle maak te min by die losskrums skoon, hul wedstryde lyk amper soos oefenwedstryde en van reëls  “buig”, is daar min sprake.

Kan Japan die Bokke, All Blacks, Wallabies, Engeland en Ierland met hulle eie spelers klop? Ek weet nie so mooi nie. Teen die VSA ja, teen Kanada ja, teen Skotland ja en teen die onvoorspelbare Franse dalk ja.

Die spel is vinnig en byna sonder ongeoorloofde spel (dis hoekom Fourie du Preez, Schalk Burger, Jacques Fourie, Heinrich Brüssow  en Steyn se rakleeftyd jare kan aanhou). Die Japanse spelers se vaardighede het baie ontwikkel en verbeter, die losvoorspelers (en stutte, hakers en slotte ) is beweeglik en is woelig soos miere, maar iets haper.

Ek dink dis omdat die groot maatskappye (soos Panasonic, Toshiba en Kobe Steel) die spanne besit en die geld inpomp. Dit druis teen Japanse kultuur in om buite die reëls te beweeg. Dink net watter skande dit vir die maatskappy sou wees as sy span `n rooikaart sou kry.

Daar is nie `n Japanse weergawe van Richie McCaw of David Pocock nie – wat die skeidsregter se geduld tot die uiterste beroef. Daar is nie ’n Bakkies Botha, Bismarck du Plessis of `n Duane Vermeulen nie, spelers wat die losskrums skoonmaak en as jy in hulle pad sou kom, nou ja …

Dalk waai daar `n vars briesie in die vergrote Superreeks wanneer Japan in 2016 span inskryf.  Dalk leer die spelers om nie die ander wang te draai nie, dalk leer hulle om die skeidsregter se geduld te beproef, dalk leer hulle vir lande soos Tonga, Samoa en Fidji (asok die Groot Vyf) dat daar nie `n plek vir hoë, gevaarlike en laatvatte  in rugby is nie.

Dalk bewys hulle my heeltemal verkeerd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.