Saints kry vir Skosan; Leeutrop word kleiner

Courtnall Skosan. Foto: GB Jordaan.

Courtnall Skosan, die Leeus se blitsige Springbokvleuel, gaan voortaan sy rugby vir die Northampton Saints in Europa speel.

Die nuus is deur die Engelse klub op sosiale media bevestig.

“Die klub het ’n ryke geskiedenis en ek hoor heeltyd hoe lekker dit is om op Franklin’s Gardens te speel. Ek sien uit na die geleentheid en wil so gou as moontlik my stempel by die opwindende klub afdruk,” het Skosan gesê.

Die 30-jarige agterspeler het 12 toetse vir die Springbokke gespeel, terwyl hy sedert November 2013 vir die Leeus in Johannesburg uitgedraf het.

Sy spoed het hom een van die Johannesburgers se gevaarmanne gemaak en hy was deel van hul goeie Superrugby-veldtogte ’n seisoen of vier gelede.

“Dit was ’n voorreg om deel van die Leeus-groep te wees en ek het dit geniet om ’n verskil daar te maak.”

Daar is deesdae ’n massa-uittog uit Johannesburg en benewens Skosan draf spelers soos Tyrone Green, Madosh Tambwe, Harold Vorster en ’n spul ander reeds vir ander spanne uit.

Die Leeus is tans heel laaste op die Curriebeker-punteleer en hulle is die afgelope naweek deur die Haaie op Ellispark verrinneweer.

Die Durbaniete het die kragmeting met 56 – 14 gewen nadat hulle rustyd reeds met 28 – 0 voorgeloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Nadat Johan Ackermann weg is ,was dit klaar met die Leeus en behoort hul mi nie Noordelike halfrond kompetisie nie omdat hul daar soos in die Curriebeker net skande sal maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.