Sal Blitsbokverpligtinge vir Kwagga sy plek in Bokspan kos?

Kwagga Smith – is hy in die binnebaan om die Boktoerspan te haal?
(Foto: youtube)

Die plaasvervanger vir die beseerde flank Jean-Luc du Preez in die Springboktoerspan vir die komende jaareindtoer sal waarskynlik Dinsdag al bekend gemaak word.

Du Preez, die Sharks se steelkantflank in die Curriebekereindstryd, is vroeg van die veld met ʼn beseerde enkel. Daar was aanvanklik hoop dat hy net drie weke van die veld sou wees, maar verdere ondersoek en skanderings het Maandag getoon dat hy sy enkel gebreek het.

Du Preez sal dus geen rol op die toer kan speel nie.

Allister Coetzee se onverklaarbare voorkeur om Uzair Cassie en Francois Louw sedert Warren Whiteley se besering in posisie as agsteman te kies, maak dit egter nie ʼn gegewe dat Nizaam Carr gekies sal word om Du Preez te vervang nie.

Carr was die afgelope tyd as agsteman kookwater vir die Westelike Provinsie en was in die eindstryd een van dié uitblinkers.

♦  Maar dit lyk of die Blitsbokke se Kwagga Smith, wat vanjaar vir die Lions ook op agsteman uitgeblink het, eerder die binnebaan as Du Preez se plaasvervanger het.

Dit is veral so as daar ag geslaan word op Coetzee se stelling dat daar prosesse is waardeur gewerk moet word.

Smith is natuurlik ʼn sleutelspeler van die Blitsbokke wat hul veldtog as verdedigende kampioene van Wêreldrugby se sewesreeks op 1 Desember begin. Dit is ʼn dag voor die toets teen Wallis, die laaste op die jaareindtoer.

Word Smith vir die toerspan gekies, sal hy nie saam met die Blitsbokke vir die eerste twee toernooie in Dubai (1 en 2 Desember) en in Kaapstad  (9 en 10 Desember) kan voorberei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.