Sal iemand more se toets onthou?

Spelerskaarte uit 1938. (Foto: Bidorbuy)

Spelerskaarte uit 1938. (Foto: Bidorbuy)

Dit was een van daardie dae waarna jong ondersteuners uitgesien het, om `n plakaat van jou gunsteling speler of span saam met jou gesinstydskrif of in die koerant te kry.

Vroeër was daar ook spelerskaarte en foto’s op sigaretpakkies en agterop vuurhoutjiedosies. Nou sal die regering slange daaroor vang.

Dit was in die dae toe die Bokke net elke tweede of derde jaar getoer het, net `n paar tuistoetse elke jaar gespeel het en die Curriebeker-reeks nog belangrik was en toeskouers daarheen gestroom het.

Ek glo nie daar was `n jong seun wat nie foto’s en plakkate van hul helde teen hulle kamermure opgeplak het nie. Saam met die foto’s was daar `n agtergrondartikel oor die speler, sy beroep, waar hy gebore is en skoolgegaan het, van watter musiek, fliek, kos en klere hy hou, watter motor hy bestuur, waar hy vakansie hou en saam met wie hy die graagste op `n eiland sou wou wees.

Dit was in die jare toe daar nog boere, dokters, dominees, monteur-draaiers, werktuigkundiges, polisiemanne, soldate, studente en bewaarders Bokke was. Dit was in die dae toe spelers sewe jaar op universiteit was, maar nooit graad gevang het nie.

Dit was in die dae toe net die spelers Bok-truie mog dra, daar staanplekke en voorwedstryde was, daar nartjies, grondboontjies, biltong en programme te koop was, daar deur die nag tou gestaan is om kaartjies te koop.

More in die Mbombelastadion speel die Bokke in hul 200ste toets sedert 2000 wanneer hulle Argentinië in die Rugbykampioenskap pak. Tensy die Bokke verloor of Byan Habana vyf drieë druk en Johan Goosen 30 punte aanteken, wie sal die toets oor drie jaar onthou?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neels ·

Ja, dit was die dae toe ek my broer ons self verloor het op Loftus! Ons het vroeg oggend al daar aangekom van Marble Hall af en al die voorwedstryde gekyk, die programmetjie van voor tot agter gelees en ons vergaap aan die polisie van Hammanskraal polisie college se gimnastrade. Dis die dae van die `81 toer toe Huisgenoot fotos en statisieke van elke springbok op toer geplaas het, statistieke wat ek nou nog onthou. Dis die dae van die somertoets op Loftus, van vroeg opstaan en sien hoe oupa amper deur die dak spring van blydskap oor Ray Mordt se driekuns. Dit was die dae van Danie Craven, van meriete en trots. Ek het hierdie week die bokke se oefening op Mbombela stadion gaan bywoon en daar as was meer mense as by n gewone Puma wedstryd. Maar van een ding is ek seker, die intensiteit was nie daar nie, as ons more speel soos ons oefen sien ek swarigheid…..en as ons verloor….sal almal die toets onthou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.