Sal Suid-Afrika baat vind by ʼn wêreldseisoen?

Ter illustrasie. (foto: Inus Grobler)

Wêreldrugby gaan op 30 Junie een van sy belangrikste besluite neem wanneer daar oor ʼn wêreldwye seisoen gestem word.

Een van die voorstelle is om die toetsreekse in Junie tussen spanne van die Noordelike en Suidelike Halfrond, wat reeds na Julie geskuif is, na Oktober uit te skuif. Dit sal beteken dat spanne sewe tot agt opeenvolgende toetse in Oktober/November sal speel.

Dit kan selfs beteken dat die Sesnasiesreeks in dieselfde tydperk afgehandel word, asook die Rugbykampioenskap.

Wat dan van die afstande wat afgelê moet word?

Daar word reeds sedert 2007 oor ʼn wêreldseisoen gepraat en gestry en nou word daar gesê: Tot hiertoe en nie verder nie.

Soms wonder ʼn mens of dit nie net gedoen word om die Noordelike Halfrond tegemoet te kom nie, want afgesien van ʼn toets of twee wat die afgelope paar jaar buite die toetsvenster geval het, was daar baie min in die Suidelike Halfrond om oor te kla.

Aan die ander kant gaan dit oor geld, oor die voortbestaan van rugby, soos daar nou met die Covid-19-pandemie ondervind word.

Enige besluit wat geneem word, sal die rugbylandskap in Suid-Afrika verander.

Dit kan ʼn wesenlike invloed op die rugbyjaar hê – op toets-, provinsiale, skole- en klubvlak. Veral as daar boonop planne is om na die Noordelike Halfrond oor te skuif.

Hoe gaan dit die Suid-Afrikaanse seisoen beïnvloed, wanneer gaan die onderskeie reekse gespeel word, gaan daar ook rugby in die somermaande gespeel word?

Dís hoekom die besluit so belangrik gaan wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.