Sale Sharks se taai tameletjie

Die Sale Sharks. Foto: Facebook

Die Engelse Premierliga-rugbybase sit met ʼn yslike kopseer.

Die beplanning was gedoen om Sondagmiddag die laaste reeks wedstryde almal op dieselfde tyd te begin om te bepaal watter vier spanne komende Saterdag in die halfeindronde van die reeks teen mekaar speel.

Maar toe strek die Covid-19-pandemie weer sy tentakels wyd en saai chaos met 16 spelers en beamptes van Sale wat positief getoets is vir die virus.

Sale wou steeds voortgaan om te speel, maar toe sê sy teenstander, die Worcester Warriors, aikôna.

Dit het daartoe gelei dat die kragmeting tot Woensdag uitgestel moes word om dan eers die topvier-spanne te bepaal.

Soos sake ná Sondag se reeks wedstryde staan, het die Exeter Chiefs (74 punte) boaan die liga geëindig, gevolg deur London Wasps (71), die Bristol Bears (69), Bath (67) en Sale Sharks (64).

Die Sharks moet dus die Warriors klop om Bath uit te hou.

Hier in Suid-Afrika is Sale die gunstelingspan, want nege Suid-Afrikaners, Jono Ross, Faf de Klerk, die drie Du Preez-broers, Robert, Jean-Luc en Dan, Coenie Oosthuizen, Akker van der Merwe en Cobus Wiese, speel almal vir die klub met Lood de Jager op die krukkelys.

Manu Tuilagi. (Foto: AP Photo/Aaron Favila, File)

Niemand weet egter watter spelers is positief en of hulle betyds gaan herstel nie. Boonop is Manu Tuilagi ook beseer en die groep gaan baie uitgedun wees.

Gaan die spelers ook in staat wees om Woensdag te speel en dan weer komende Saterdag?

Die Premierliga gaan Maandag en Dinsdag opvolgtoetse doen voordat ʼn finale besluit geneem sal word of die wedstryd kan voortgaan.

ʼn Mens gun die spelers die kans om in ʼn uitspeelwedstryd betrokke te wees, maar aan die ander kant is die veiligheid van die span, beamptes en teenstanders die eerste prioriteit.

Die kragmeting tussen Gloucester en die Northampton Saints is juis afgestel omdat Saints ook erg deurgeloop het.

Nou is Sale in dieselfde bootjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.