Salta: net drie van 2016-beginspan, tien van 23-tal, weer daar

Allister Coetzee – heelwat nuwe gesigte. Foto: Saru

Van die vernaamste take van ʼn afrigter is onder meer dat hy met keuring moet kan raakvat.

Daar kan seker nie te veel gekla word oor die huidige Springbokspan wat Saterdag in Salta teen Argentinië uitdraf ná verlede week se goeie oorwinning oor die Poemas in Port Elizabeth nie.

En juis dít laat dit ʼn mens wonder …

Ja, dis is ʼn volle jaar later. Maar hoe is dit moontlik dat die Bokafrigter Allister Coetzee verlede jaar in só ʼn mate misgetas het met die verloorspan in Salta dat net drie van daardie begin-vyftiental Saterdag weer in die beginspan sal wees? En net tien van daardie wedstryd se 23-tal weer daar?

Agterlangs sal net Elton Jantjies in die tonnel staan voordat die spelers die veld betree. Van die voorspelers sal net Beast Mtawarira en Saterdag se kaptein Eben Etzebeth weer met die afskop daar wees.

Waar lê die fout? Dalk by ʼn ongelooflike verbetering in die gehalte van die spelers wat vanjaar gekies is nadat hulle verlede jaar oor die hoof gesien is?

Indien wel, is dit die gevolg van die vaardighede wat Brenden Venter en Franco Smith ingedril het?

Of was dit verlede jaar vir hierdie betrokke wedstryd, soos vir die meeste ander, ook sommer swak keuring? Of die geloof dat die ou oorsese Bokke beter is as die jonges in Suid-Afrika?

Van verlede jaar se beginspan is Ruan Combrinck en Lionel Mapoe ná vanjaar se Superreeks oor die hoof gesien; Johan Goosen speel (tans) nie meer rugby nie; Bryan Habana, toe reeds heelwat oor sy beste, is ná ʼn wonderlike toetsloopbaan verlede jaar ingespan maar genadiglik vanjaar nie weer daar nie; Faf de Kerk het vanjaar die voëltjie hoor fluit dat hy dit nie gaan maak nie, is daarna teen die Franse oor die hoof gesien en speel nou oorsee; en Damian de Allende is op die bank.

Van verlede jaar se begin-voorspelers is Warren Whiteley en Oupa Mohoje beseer; Lood de Jager is oor die hoof gesien; Vincent Koch is oorsee; Adriaan Strauss is nie meer vir toetsrugby beskikbaar nie; en Francois Louw is soos Habana as ʼn oorsese speler nie oorweeg nie.

Van verlede jaar se bank af speel die twee Kriels, Jesse en Jaco, Saterdag van die begin af; Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Pieter-Steph du Toit en Rudy Paige is weer op die bank; en Morné Steyn en Lourens Adriaanse, albei oorsee, is nie oorweeg nie.

Verlede jaar se 23-tal (swart gedruk is die tien wat vanjaar weer daar is) –

15 Johan Goosen, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Damian de Allende, 11 Bryan Habana, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Oupa Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Adriaan Strauss (kaptein), 1 Beast Mtawarira. Bank: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Lourens Adriaanse, Pieter-Steph du Toit, Jaco Kriel, Rudy Paige, Morné Steyn, Jesse Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

My afleiding was dat Allister Coetzee in die begin sover as moontlik by Heyneke Meyer se spelers gehou het. Ek dink hy het geglo dat as hy te veel veranderinge maak die mense hom gaan kritiseer. Die fout wat hy gemaak het was dat die mense reeds vir Heyneke gekritiseer het vir sy keuse en alreeds met die wêreldbeker gevoel het van die ouens hoort nie meer daar nie. Dalk het Alister self besef die ou manne is nie meer goed nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.