Sam Cane se operasie suksesvol

Sam Cane

Sam Cane, flank van die All Blacks, herstel goed ná die nekoperasie wat hy moes ondergaan het nadat hy die naweek beseer is in die wedstryd teen die Springbokke.

Cane het ʼn nekwerwelfraktuur opgedoen in Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap in Pretoria. Hy is in die 35ste minuut met ʼn nekbesering van die veld nadat hy en Francois Louw gebots het.

Hy moes in Suid-Afrika agterbly om geopereer te word.

Die All Blacks het intussen gesê die operasie was suksesvol en dat Cane weer op die been is.

“Hy wil graag sy dank uitspreek vir al die ondersteuning wat hy van Nieu-Seeland en oor die wêreld heen gekry het.”

Tony Page, die All Blacks se spandokter, het gesê Cane sal binne die volgende paar dae terugvlieg Nieu-Seeland toe.

“Hy sal vir die volgende ses weke ʼn nekstut dra as deel van die eerste stappe tot volkome herstel.”

Cane sal na verwagting volkome herstel en weer kan speel, maar niemand wil in dié stadium ʼn voorspelling waag oor wanneer dit sal wees nie.

Na verwagting sal hy maande buite aksie wees en kan hy moontlik die Wêreldbeker-toernooi misloop.

Dit was Saterdag die Chiefs se kaptein se 60ste toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.