Sam Cane tree uit toetsrugby

Nieu-Seeland se Sam Cane. (Foto: Phill Magakoe/AFP).

Sam Cane, die Nieu-Seelandse rugbykaptein, sal aan die einde van die jaar uit toetsrugby tree.

Die 32-jarige Kiwi het Maandag aangekondig dat hy ná 12 jaar sy toetsrugbystewels gaan ophang.

Cane het in 95 toetse vir die All Blacks gespeel en het dié span in 27 daarvan as kaptein aangevoer.

Die All Blacks het nog nie weer op die veld uitgedraf ná hul loesing teen die Springbokke in verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk nie. Cane was reeds op sabbatsverlof in Japan.

“Hy wil meer tyd saam met sy familie deurbring en hoop om ʼn langtermynkontrak met Suntory Goliath in Tokio te teken,” het Nieu-Seeland Rugby gesê.

Cane het gesê die vooruitsig van ʼn lonende driejaarkontrak met die Tokio-klub is te goed om deur sy vingers te laat glip.

“Ek moes alles opweeg en uiteindelik, met ʼn jong gesin in gedagte, het dit gelyk na die beste besluit vir ons toekoms,” het hy gesê.

“Dit was ʼn baie moeilike besluit, want ek is mal oor die spanne wat ek hier in Nieu-Seeland verteenwoordig.”

Cane het die Wêreldbeker-toernooi in 2015 saam met Nieu-Seeland gewen en was twee keer ʼn lid van die Waikato Chiefs toe hulle as Superrugby-kampioen gekroon is.

Hy het in 2020 die kapteinskap by Kieran Read oorgeneem.

Kieran Read. (Foto: Facebook Kieran Read)

Cane het by tye met sy eie prestasie gesukkel en is in verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd in die 28ste minuut van die veld gestuur.

Met talente soos dié van Ardie Savea en Dalton Papalii ook beskikbaar was daar gerugte dat Cane dalk uit die span gelaat kan word.

Tydens sy kapteinskap het Nieu-Seeland ʼn eerste toetsreeks tuis teen Ierland in 2022 verloor en ʼn paar weke later ʼn skokkende nederlaag teen Argentinië in Christchurch gely.

“Ek is regtig dankbaar vir die tyd wat ek die kaptein was. Dit was ʼn groot eer en voorreg; daar was baie lesse en groei,” het Cane gesê.

Scott Robertson, wat onlangs die afrigtersleisels van die All Blacks oorgeneem het, het gesê hulle het die kontrak in Japan breedvoerig bespreek.

“Ek verstaan ​​die redes agter sy besluit ten volle en ondersteun hom,” het Robertson gesê.

“Die posisie wat hy speel, verg geestelik en fisiek baie van jou; albei hierdie dinge neem toe as jy kaptein is. Om te doen wat hy oor so ʼn lang tydperk gedoen het, is ʼn ongelooflike prestasie. Ek respekteer ten volle dat hy hierdie geleentheid gebruik het.”

Cane sal aan die einde van die Japanse klubseisoen na Nieu-Seeland terugkeer. Hy is beskikbaar om vir die All Blacks diens te doen, maar sal nie die span aanvoer nie.

“Dit is deel van die natuurlike proses wat in rugby verloop,” het Cane gesê.

“Ek het my tyd as kaptein gehad en dit was ʼn groot eer en voorreg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nierkie ·

Ag dankie tog, nou hoof ons nie maar na sy geneulery te luister nie.

Manie ·

Die afgelope wêreldbeker was nie goed vir Cane, du Pont en Vunipola nie. 1 tree uit, 1 speel nou eerder 7’s rugby en ‘n ander een drink te veel. Die arme bloedjies.

Niklaas ·

Tans het hy 95 toetse agter die blad. Dalks kan hy vanjaar nog sy honderdtal maak. Dis nou as hy vergewe is in rugbymal New Zealand , waar hul lang geheues het.

André ·

Hou tog nou op om die ou sleg te sê en bedank hom liewer. As dit nie vir sy glips was nie het julle nie julle beker met 1 punt gewen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.