Samoa kry RWB-plek; twee uit SA druk drieë

Samoa het op lange laas sy plek in aanstaande jaar se toernooi in Japan om die Rugbywêreldbeker bespreek.

Hy het die tuisspan op die Fritz Grunebaum-sportpark in Heidelberg, Duitsland, met 42-28 geklop (rustyd 14-15) in ʼn aanspraakstryd wat op ʼn tuis-en-weg-grondslag beslis is.

Die Suidsee-eilanders het ook die eerste wedstryd in Apia, Samoa, met 66-15 gewen.

Duitsland was laat in die tweede helfte met 28-21 voor, maar dit het nie juis gelyk of Samoa belangstel om hulle te klop nie – tot die eilanders in die laaste klompie minute na willekeur drie verdoelde drieë gaan druk het.

Die Suid-Afrikaners Jaco Otto en Jarrid Els het elk ʼn drie vir Duitsland gedruk.

Samoa het sedert 1991 nog aan elke RWB-toernooi deelgeneem, maar kon hierdie keer nie regstreeks die paal haal nie omdat hy in 2015 swakker as ʼn derde plek in sy groep gevaar het.

Hy het ook sy kanse in die reekse van 2016 en 2017 om die Stille Oseaan-nasiesbeker verspeel. Toe dié twee jaar se punte saamgetel is, het Fidji en Tonga eerste en tweede gekom om die RWB-plekke op te raap.

Duitsland het nóg ʼn kans om vir die toernooi in Japan in aanmerking te kom.

Hy sal in November in Marseille, Frankryk, aan ʼn vierhoekige heruitdun deelneem, waarna die wenner ook Japan toe sal gaan.

Behalwe Kanada en Hongkong sal die span wat tweede kom in Rugby Afrika se Goue Beker-reeks die viertal voltooi. Tans lyk Kenia na die sterkste kandidaat.

Hongkong (21) staan tans die beste van die vier aspirante op die wêreldranglys, gevolg deur Kanada (22), Kenia (28) en Duitsland (29).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.