Samoa sien twee keer geel, maar klop Russe

Samoa se Melani Matavao spring op sy spanmaats nadat Alapati Leiua (links) ‘n drie gedruk het,. Foto: (AP Photo/Jae Hong)

Dis al jare lank een van die Samoaanse rugbyspan se groot tekortkominge: ʼn gebrek aan dissipline, veral wanneer hulle hoë en gevaarlike duikslae uitvoer sonder om hul arms te gebruik.

Dink maar terug toe hulle in 1995 en 2003 teen die Bokke gespeel het.

Dit het Dinsdag in Koemagaja in Japan weer kop uitgesteek toe Samoa Rusland met 34-9 in Groep A van die Wêreldbeker-rugbytoernooi geklop het.

Die Franse skeidsregter Romain Poite het twee geel kaarte aan Rey Lee-Lo en Motu Matulu gewys vir gevaarlike hoogvatte en sonder om hul arms te gebruik. Dit kon so maklik rooi gewees het!

In Lee-Lo se geval wou Poite ʼn rooi kaart uithaal, maar hy is deur die televisieskeidsregter oortuig dat Evgeny Matveev afgebuk het.

Samoa se Alapati Leiua hardloop verby Rusland se Vasily Artemyev. Foto: (AP Photo/Jae Hong)

Samoa het vir byna agt minute met net 13 spelers gespeel, maar die Russe kon dit nie behoorlik uitbuit nie.

Samoa het nietemin ʼn groot waarskuwing aan Japan, Ierland en Skotland in Groep A gerig, want dis een wedstryd wat jy gaan probeer vermy, veral as Samoa al 15 spelers op die veld kan hou.

Van een ding gaan jy seker wees, daar gaan ʼn hele paar seer lywe ná die kragmeting wees … en dalk nog ʼn skokuitslag.

* Punte:

Samoa 34 (5): Drieë: Ed Fidow (2), Alapati Leiua (2), Afaesetiti Amosa, Reynold Lee-Lo. Doelskoppe: Tusi Pisi (2).

Rusland 9 (6): Strafdoele: Yuri Kushnarev (2). Skepdoel: Kushnarev.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Soos verwag, het dit nie lank geneem vir die toernooi om in ‘n ‘Kla- en Kerm Karnival’ te ontaard nie. Teem en weeklaag oor skeidsregters is aan die orde van die dag, deur verloorders sowél as wenners!
‘n Beeld in die kleine op die ganse mensdom.
Hoe bejammerenswaardig het ons nie geraak nie.

Nico K ·

Dit is nie net na hul dissipline wat Samoa moet kyk nie, hulle gaan ook ‘n ander skopper moet kry !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.