San Diego kry spelers vir Afrika

Cecil Afrika: Die seweslegende. Foto: Twitter.

Kort op die hakke van die nuus dat Bjorn Basson voortaan sy rugby vir die San Diego Legion gaan speel, is daar bevestig dat Cecil Afrika ook in 2021 vir die Amerikaanse span sal uitdraf.

Joe Pietersen en Dean Muir is die ander Suid-Afrikaners in die Legion-span.

Die 32-jarige Blitsbok-legende se seweskontrak het aan die einde van Julie verstryk en met die wêreldwye Covid-19-pandemie wat amok onder sportbyeenkomste maak, het hy en SA Rugby gesamentlik besluit om nie sy kontrak te hernieu nie.

Afrika – met sy kenmerkende rastalokke – was een van die gevaarlikste spelers op die internasionale sewesverhoog. Ná 345 wedstryde het hy ’n verstommende 1 462 punte in die HSBC-reekse aangeteken. Hy was deel van die Blitsbokspan wat onder meer die wêreldreeks in 2017 en in 2018 gewen het; hy het ook medaljes by die Statebondspele (goud in 2014) en Olimpiese Spele (brons in 2016) verower.

Op die vyftienmanfront het Afrika ervaring saam met die junior Springbokke, Griffons en Cheetahs opgedoen. Met sy natuurlike flair en aanvallende spel sal hy egter sy gewig in goud werd wees vir die Legion: Hy laat dit lekker lyk om rugby te speel; die perfekte doepa vir die adrenalienverslaafde Amerikaners.

“Cecil is ’n legende van die spel. Hy was passievol, professioneel, ’n inspirasie en rolmodel vir almal. Dankie vir die vreugde wat jy vir ons op die sewesverhoog verskaf het,” het die Springbokvleuel Bryan Habana destyds gesê.

Die San Diego-span het ’n paar hase uit die hoed gepluk. Daar is vroeër berig dat Engeland se Eddie Jones die span in ’n raadgewende hoedanigheid sal bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.