Bothaville, verlede jaar se naaswenner van die Griffons se Sandveldliga, moes Donderdag wikkel om die Tikwe Tigers te klop.
Hy het uiteindelik 24-9 gewen nadat hy rustyd 12-9 voor was.
Carel van der Merwe, `n woordvoerder van Bothaville, sê dit was `n baie fisieke wedstryd en Tikwe het sy wedstrydplan uitstekend uitgevoer.
“Bothaville het eerste punte aangeteken deur `n dryfmaalbeweging waarna Reinhardt Kleynhans oorgegaan het vir `n drie. “Tikwe het nie gaan lê nie en het Bothaville die heeltyd in die hoeke ingedruk,” berig Van der Merwe.
“Die Tigers het twee strafdoele en `n skepdoel aangeteken voordat Bothaville net voor rustyd punte aangeteken het toe die agsteman, Ronald Niksch, gedruk het (12-9).
Van der Merwe sê Bothaville se agterlyn het gesukkel om aan die gang te kom, maar die kaptein, Kirstein Kok, het die lyn gebreek en onder die pale oorgegaan.
“Drie minute voor die einde het Wimpie Strydom Bothaville se bonuspuntdrie gedruk ná uitstekende werk deur Thulani Sedanyoni.”
Kok het twee doelskoppe bygevoeg om sy eie totaal op nege te staan te bring.
Van der Merwe sonder Japie Potgieter as die beste voorspeler uit en Willie Coetzer as die beste agterspeler.
Net ‘n versoek aan die rubriekskrywers. Vertel vir ons waar ‘n klub vandaan kom. Ek dink min van ons weet waar kom die Tikwe Tigers vandaan.