Sandveldliga: ʼspan druk drie met 16 spelers’

ʼn Span het Donderdag glo ʼn drie in die Griffons se Sandveldliga gedruk met 16 spelers op die veld en sonder dat die skeidsregter dit agtergekom het.

James Helm, die woordvoerder van Welkom, sê dit het in die tweede helfte van die kragmeting tussen Welkom III en die verdedigende Sandveld-kampioen, Bothaville, gebeur.

Bothaville het met 15-5 gewen (rustyd met 7-0).

Helm sê Welkom het in die eerste helfte gesukkel om balbesit te behou, en is byna die hele helfte in sy eie kwartgebied vasgepen.

“Hy het in die tweede helfte beter gespeel, maar kon slegs een drie druk. Hy het ook ʼn slag die doellyn oorgesteek, net om vir ʼn vorentoe aangee teruggeroep te word.”

Paul Spies het die drie gedruk.

“Quintin Davis, André van Zyl, Danie Malan en Robert Randall het in die agttal vir Welkom uitgeblink, en Richard Herbert, Stefan van der Merwe en Spies agterlangs.

♦ Willem van Zyl, die voorsitter van Bultfontein Tigers, laat weet sy span het met 64-7 teen Bloemhof gewen.

Hy sê die span het as ʼn eenheid gespeel en ʼn goeie spangees geopenbaar.

“Daar is tien goeie spandrieë gedruk, waarvan ʼn drietal agter Dries Steyn se naam pryk.

“Christiaan Geyer het 14 punte met sewe doelskoppe behaal.”

Van Zyl sê EP Nel en Geyer het in die agterlyn uitgemunt, en Dries Steyn, Wimpie Bender en Gerrit Maritz tussen die voorspelers.

“Hou Bultfontein vorentoe dop,” het hy gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.