Sandveldliga: Hoopstad, Parys gee die toon aan

Hoopstad en Parys gee die toon aan in die Griffons se Sandveldliga wat reeds ver gevorder het.

Die Sandveld se 2015-kampioen, Hoopstad, is ná sewe wedstryde steeds onoorwonne in die Suidstreek nadat Wesselsbron Saterdag punte aan hom afgestaan het.

Parys, wat Welkom III met 52-14 oorskadu het, het ses uit sy sewe wedstryde gewen en is die voorloper in die Noordstreek.

Die verdedigende kampioen, Bothaville, het in slegs sy derde oorwinning vanjaar Beatrix met 31-17 geklop.

Rovers III van Wekom het Tikwe (Virginia) in ʼn naelbytstryd met 29-28 ondergesit, en blaas in Parys se nek.

Die nuweling in die reeks, Bloemhof, het sy eerste wedstryd gewen deur Theunissen met 34-3 af te ransel.

Bultfontein het punte teen Bronville gegee en sodoende plekke op die punteleer verwissel.

 Elri Kruger, Bloemhof se administrateur, sê uitstekende skopwerk, goeie besluitneming en puik spel het die grondslag gelê vir die span se sege teen Theunissen.

Die binnesenter, Lourens Viljoen, wat twee puik drieë gedruk het, is as die speler van die wedstryd aangewys. Sy plofkrag en die gemak waarmee hy deur Theunissen se verdedigingslinie gebreek het, het grootliks beïndruk.

SW Oosthuizen (losskakel) se skopwerk en verdediging was van die boonste rak. Hy het 14 punte met vier doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Hendrik Jansen van Vuuren (agsteman) en die flanke Nico van der Walt en Leslie Human (kaptein) het as lostrio mekaar skitterend aangevul.

Human en Wynand van Tonder het Bloemhof se ander drieë gedruk.

Opgesomde punteleer –

Noord

Parys 27, Rovers III 27, Tikwe 18, Welkom III 17, Bothaville 15, Beatrix 1.

Suid

Hoopstad 34, Bronville 23, Bultfontein 18, Theunissen 12, Wesselsbron 11, Bloemhof 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.