Sanzaar-base skud maar net weer die kop

Hoe bring ʼn mens die kloutjie by die oor?

Die Brumbies, wat die heel minste punte het en die swakste van die agt spanne is wat in die kwarteindronde van die Superreeks kan speel, gaan weer tuisveldvoordeel hê.

Dis niks nuut nie, dit het verlede jaar ook gebeur. Is daar toe iets daaroor gedoen? Nee.

Die Brumbies het 18 ligapunte en kon nog net drie van hul nege wedstryde wen (teen die Force, Reds en Waratahs, almal ewe swak Australiese spanne).

Die Brumbies sal feitlik verseker eerste in die Australiese afdeling en dus “derde” op die algehele puntelys eindig. Die wenners van die vier groepe beklee plekke een tot vier. Dit behoort die Lions, die Stormers, die Brumbies en die Crusaders te wees.

Die Brumbies, tans op 18 punte, word dus geplaas bo die Chiefs (tans 37 punte), Hurricanes (33), Highlanders (28) en Sharks (26), wat ook behoort deur te dring.

Weens die omstrede konferensie-stelsel, en soos sake nou staan, is al spanne wat  “bo” die Brumbies kan eindig, die Crusaders (41), Lions (37) en Stormers (28), wat bo-aan hul afdelings behoort te eindig.

Dié spanne sal net soos die Brumbies ook tuisveldvoordeel in die kwarteindronde hê, maar darem ook in die halfeindronde tuis speel as hulle wen.  Geen probleem nie, hierdie spanne verdien dit.

Volgens die kwarteindronde-bepalings speel 1 teen 8, 2 teen 7, 3 teen 6 en 4 teen 5.

As die Brumbies met ʼn vloekskoot in die kwarteindronde wen, sal hulle in die halfeindronde weg van die huis af moet speel.

Die Nieu-Seelanders brom al jare lank oor dié stand van sake, maar hulle wil amptelik nie te veel sê nie, want Sanzaar (die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) bestaan uit beamptes van Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Australië. Dis juis hulle (saam met die uitsaaiborg) wat oor die stelsel en bepalings besluit het.

♦  Rugby in Australië is op ʼn kreeftegang, die spelers se spelpeil is swak, maar tog kan ʼn kragmeting met die Brumbies vol slaggate wees.

Hoekom? Die Superreeks word tussen 10 en 29 Junie vir die Junie-toetse onderbreek en die Wallabies speel teen Fidji, Skotland en Italië.

Hulle behoort al drie toetse te wen om die spelers se selfvertroue ʼn hupstoot te gee

ʼn Wedstryd in Canberra was nog nooit maklik nie, en as ek goeie raad vir die Sharks het, is dit om nie sesde te eindig nie, al vaar die Brumbies ook hoe swak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.