Sanzaar trap ook met spankeuse klei

Die geloofwaardigheid van Sanzaar, die Suidelike Halfrond se belangrikste rugbyliggaam, het Dinsdag nóg ʼn knou weg.

Die afgelope ses of sewe jaar word daar al gewonder of Sanzaar ná hul rits bisarre besluite nie van die spel, en spesifiek die Superrugby-reeks, verwyder geraak het nie. Nou het hulle dit ʼn stap verder gevoer.

♦ Dinsdag het daar uit Australië ook Sanzaar se gekombineerde Superspan van die jaar gekom.

Daar sal uiteraard altyd verskille wees wanneer spanne in welke sport ook al gekies word, maar hierdie een is ʼn bietjie dik vir ʼn daalder.

Die goeie nuus? Suid-Afrika het vier verteenwoordigers in die span, een van elke franchise. Hulle is Steven Kitshoff (Stormers), Malcolm Marx (Lions), Lood de Jager (Bulls) en Jean-Luc du Preez (Sharks).

Du Preez, wat vir die Sharks die steelkantflank  is, is op nommer sewe-flank, dus as baljagter, vir die Sanzaar-span gekies. (Oorsee word die nommer sewe as baljagter beskou, in Suid-Afrika is die nommer sewe egter die steelkantflank en nommer ses die baljagter. Sanzaar het dus vir Du Preez uit posisie in hul uitsoekspan ingesluit!)

♦ Die vreemdste van die gekose span? Die Crusaders, wat 17 van sy 19 wedstryde (insluitende die eindstryd en die Superrugby-titel) gewen het, het net ʼn enkele speler in die Sanzaar-span.

Die Crusaders het boonop tien spelers in die magtigste span ter wêreld, die All Blacks, se toetsgroep vir die Wêreldkampioenskap-reeks.

Die enigste lid hul span wat deur Sanzaar gekies is, is die vleuel George Bridge, wat nie deur die All Blacks-keurders in hul nasionale groep ingesluit is nie.

Net die Chiefs, wat in die kwarteindstryd teen die Hurricanes verloor het, het meer as een speler (naamlik vier) in die Sanzaar-span.

Jy kan maar net jou kop vir hierdie “span” skud, al is dit glo op statistieke gegrond.

♦ Damian McKenzie, losskakel van die Chiefs, is as speler van die toernooi gekies uit die sowat 450 spelers wat vanjaar in die reeks gespeel het en wat groot name soos Rieko Ioane, Aaron Smith, Ryan Crotty en  Nicolás Sanchez insluit wat nie deur die Sanzaar-keurders gekies is nie.

Sanzaar se “beste span” in die 2018-Superreeks ‒

15 Israel Folau (Waratahs), 14 Solomon Alaimalo (Chiefs), 13 Anton Lienert-Brown (Chiefs), 12 Michael Little (Sunwolves), 11 George Bridge (Crusaders), 10 Damian McKenzie (Chiefs), 9 TJ Perenara (Hurricanes), 8 Akira Ioane (Blues), 7 Jean-Luc du Preez (Sharks), 6 Pablo Matera (Jaguares), 5 Lood de Jager (Bulls), 4 Brodie Retallick (Chiefs), 3 Taniela Tupou (Reds), 2 Malcolm Marx (Lions), 1 Steven Kitshoff (Stormers).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

paul ·

wim die span is op “stats” ge kies .
soo as jou “stats” die beste in jou pos was is jy ge kies

Erik ·

@ paul. Baie dankie. Te veel mense wat aannames maak sonder om na die volle prentjie te kyk.

‘n Paneel keurders se span sal heelwat van hierdie span verskil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.