Sanzar kan sy Suiderkarakter heeltemal verloor

logo-sanzarSanzar kan sy karakter as beheerliggaam van rugbyreekse in die Suidelike Halfrond geheel en al verloor as mediaberigte `n aanduiding van die pad vorentoe gee.

The Sydney Morning Herald berig dat die nuwe uitvoerende hoof van Sanzar, Andy Marinos, reken geen deel van die wêreld is buite perke as dit by die uitbreiding van Superrugby kom nie.

Hy noem Asië, Nooord-Amerika, die Stille Oseaaneilande en selfs dele van Europa as moontlike basisse vir toekomstige Superrugby franchise’e.

Die grootbaas van Wêreldrugby (WR), Bernard Lapasset, het vroeër laat blyk dat hy Japan saam met Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië in die Rugbykampioenskap wil sien speel.

Sulke uitsprake dui daarop dat Sanzar uiteindelik sy Suiderkarakter kan prysgee vir `n sambreel wat wêreldwyd strek.

Dit bring bepaalde vrae na vore.

Die strawwe mededinging in die Superreeks en die Rugbykampioenskap is onteenseglik die grootste enkele rede waarom die Suiderlande vanjaar se toernooi om die Rugbywêreldbeker dermate oorheers het dat geen land uit die Noordelike Halfrond die kwarteindronde kon haal nie. Veral Argentinië se opkoms sedert hy in die Rugbykampioenskap speel, is opvallend.

Wil die Suiderlande hierdie voordeel sommerso prysgee?

Die swakker lande – en natuurlik die geldkoffers – sal wel by sodanige insluiting baat vind, maar hul deelname sal die reekse verwater en die groot vraag is in watter mate die gehalte gehandhaaf kan word.

Gevaarligte in dié opsig flikker reeds omdat Suid-Afrikaanse spanne, byvoorbeeld, met die nuwe struktuur nie so dikwels as in die verlede teen die (sterker?) Nieu-Seelandse en Australiese spanne geslyp sal word nie.

`n Mens wonder ook of Sanzar hom nie met dié ambisie op `n syspoor gaan rangeer nie. Daar kan mos nie twee liggame wees wat rugby wêreldwyd regeer nie en WR kan dan mos netsowel die reekse reël.

Of gaan dit `n kwessie wees dat Sanzar die eersterangse beroepsreekse onafhanklik van WR reël soos die geval nou reeds met die Engelse en Franse beroepsklubligas is?

Dié word herhaaldelik as `n ongesonde toestand uitgewys en sal ewe onwenslik op internasionale vlak wees.

Wat insgelyks seker lyk, is dat die Suiderlande uiteindelik hul beheer oor Sanzar (wat ook `n verkeerde benaming raak) sal moet prysgee.

Ewenwel, die mantel is nou op Marinos se skouers om aan die hand van die werkbaarheid van die pas vergrote Superreeks, met sy ingewikkelde afdelingstruktuur, die strategiese koers van die reeks en die volgende vlaag van uitbreiding te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan en Annatjie Karsten ·

Hier is nou weer ‘n bewys dat geld die grootste rol speel. Die wereld is nou nie tevrede dat hulle nie deel in die sukses van sanzar nie. Ek hoop Marinos hou kop en skop hulle onder die gat. Geen probleem om meer suidelike lande in te gooi nie, maar wereld wyd. No way. Dan kan ons die RWB by die venster uitgooi, want dit sal geen doel dien nie.

Frans ·

Superrugby het begin as ‘n reeks waarin die topspanne van Suid Afrika,Australië en NZ
teen mekaar meegeding het.Nadat Transvaal die Super 10 gewen het met ‘n provinsiale span het egter NZ en Australië begin meeding met streekspanne en het Suid Affrika aanvanklik gesukkel om mee te ding.Behalwe die Bulle wat die Super 14 in 2007 ,2009.2010, gewen het kon geek Suid Afrikaanse span die kompetisie wen nie.

Hoe oorheersend NZ spanne was, blyk uit die feit dat die spanne (Super 10 uitgesluit)
die kompetisie 13,teen Australië 4 en Suid Afrika 3 keer gewen het.

Die grootste fout van Suid Afrika lê by die gedurige ‘koop’ van spanne en word kleiner spanne soos die Leeus en Cheetahs gedurig gekniehalter omdat hul sukkel om spanne met voldoende kontinuïteit in die veld te stoot en is die spanne dikwels die melkkoeie in die reeks.

18 Spanne is hopeloos te veel en moes die kompetisie eerder in twee afdelings beslis word
met ‘n promosie en relegasiebeleid soos die Curriebeker.Die span wat laaste in die sê maar
‘A’ afdeling speel uit teen die winner van die ‘B’ afdeling.

Sodoende gaan daar minder melkoeie in die ‘A’ afdeling wees en groter en hopelik beter kompetisie.

Milan Bye ·

Niks fout nie, net `n bietjie lank! Dit is net teruggehou vir goedkeuring weens die lengte van die kommentaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.