Sanzar se blasers kry min kans in Rugbykampioenskap

fluitjieVan Suid-Afrika se ses wedstryde in die Rugbykampioenskap sal ‘n Sanzar-blaser net in een in aksie wees. In die ander vyf sal hulle volgens die deuntjie van Europese blasers moet speel.

`n Mens sal seker nooit die volle waarheid weet nie, want die weë van die skeidsregtersverenigings op alle vlakke bly vir die gewone man `n geslote boek. Tog is daar dalk iets te lees in die aanstellings van skeidsregters vir die 12 wedstryde in 2014 se Rugbykampioenskap.

Daar is mos al die hele seisoen die gevoel dat vanjaar se skeidsregter in die Superrugbyreeks `n bietjie aan die dun kant is. Dit is klaarblyklik ook so deur die IRR aangevoel, en vanjaar sal net vier van die 12 wedstryde in die Rugbykampioenskap deur skeidsregters van die Sanzarlande geblaas word.

Suid-Afrika se Craig Joubert en Jaco Peyper kry soos Steve Walsh (Australië) en Glen Jackson (Nieu-Seeland) elk een kans. Verlede jaar het Chris Pollock en nie Jackson nie geblaas en het Peyper twee keer die fluitjie gevat in die vyf wedstryde wat deur skeidsregters van die Suidelike Halfrond beheer is.

Die IRR het dus vanjaar sewe skeidsregters van die Noordelike Halfrond aangewys om in agt wedstryde in die Rugbykampioenskap te blaas. Nigel Owens beheer twee wedstryde.

Suid-Afrika kry vyf keer met blasers van die noorde te doen met die nuweling op die vlak, John Lacey van Ierland wat die Springbokke se eerste wedstryd, op 16 Augustus op Loftus teen Argentinië, sal blaas.

Steve Walsh is die enigste van die Sanzarlande se skeidsregters wat `n wedstryd van die Springbokke sal beheer: op 23 Augustus teen Argentinië in die Padre Ernesto Martearena-stadion in Salta.

Die omstrede Fransman Romain Poite, wat die Bokke verlede jaar te na gekom het met sy afstuur van Bismarck du Plessis teen Nieu-Seeland, is nie een van die vyf noordelike blasers wat in Springbokwedstryde optree nie.

Op die keper lyk dit na `n klomp goeie manne wat gekies is. Die groter blootstelling van Suid-Afrikaanse spelers aan die noordelike skeidsregters sal die Springbokke ook heelwat help met die jaareindtoer na die VK, Ierland en Italië en by die Wêreldbeker. Die reëls in die Noordelike Halfrond se rugbylande word dikwels anders as hier geïnterpreteer.

Die skeidsregters vir Suid-Afrika se wedstryde in die Rugbykampioenskap is:

16 Augustus: Suid-Afrika vs Argentinië, Loftus Versfeld: John Lacey (Ierland)
23 Augustus: Argentinië vs Suid-Afrika, Padre Ernesto Martearenastadion, Salta: Steve Walsh (Australië)
6 September: Australië vs Suid-Afrika, Patersons-stadion, Perth: George Clancy (Ierland)
13 September: Nieu-Seeland vs Suid-Afrika, Westpacstadion, Wellington: Jérôme Garces (Frankryk)
27 September: Suid-Afrika vs Australië , Nuweland: Nigel Owens (Wallis)
4 Oktober: Suid-Afrika vs Nieu-Seeland, Ellispark: Wayne Barnes (Engeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.