Sanzar swyg oor strawwe vir SA spelers

Oregan Hoskins (Foto: herald.co.zw)

Oregan Hoskins (Foto: herald.co.zw)

Daar het nou al byna `n maand verloop sedert Suid-Afrika se rugbybaas, Oregan Hoskins, sy mond behoorlik uitgespoel het oor die oënskynlik onregverdige tugprosedures wanneer Suid-Afrikanse spelers verhoor, en dan geskors  word.

Dit het gekom nadat Bismarck du Plessis (vier weke), Frans Steyn (vyf weke) Jean Deysel (sewe weke) geskors is oor vuil spel.

Die drie spelers is al drie Sharks en Hoskins was in die presidentlosie op Kingspark toe die voorvalle hulle voor sy oë afgespeel het. Hoskins was briesend, veral nadat Sanzar Steyn herverhoor het nadat adv Jannie Lubbe hom aanvanklik net lig gestraf het.

Hoskins het gesê tot hiertoe en nie verder en openlik gekla. Die reaksie? Hoskins weet wat is die kanale wat gevolg moet word en is welkom om Sanzar daaroor te nader.

Hoskins het wel `n dringende vergadering belê en ondermeer met regter Lex Mpati, hoof van Saru- én Sanzar se tugkomitees, gepraat  om die saak te besleg. Wat was die uitvloeisel? Hoekom is daar nooit hieroor berig nie?

Net soos Saru se rugbybaas warm onder die kraag is, bepleit ons al  donkiejare lank dat daar iets aan die saak gedoen moet word. Sanzar sal dit ontken, maar SA spelers word baie swaarder gestraf as hul Nieu-Seelandse en Aussie-teenstanders. Die Wallabykaptein James Horwill is onlangs net vir `n week geskors nadat hy `n teenstander met `n swaaiende arm bygekom het, die Reds-flank  Liam Gill is net twee weke geskors vir `n gevaarlike boorvat en die Hurricanes-slot James Broadhurst was net een week langs die kantlyn nadat hy `n teenstander met sy knie in die gesig gestamp het.

Saterdag in Melbourne het die Chiefs se vleuel James Lowe sy derde geelkaart gekry nadat hy die Rebels se senter Tamati Ellison met die knie gestamp het nadat hy onwettig en van die bal af aan sy trui gerem is en hom probeer losruk het.  Lowe is uitgewys en verhoor, maar is hy gestraf?

Nee.

Lowe is verhoor omdat hy vanjaar reeds in drie wedstryde geelkaarte gekry het.  Adv Nicholas Davidson  het beslis dat sy tweede geelkaart, toe hy Malakai Fekitoau gevaarlik hooggevat het, herroep is, aangesien dit glo nie gevaarlik was nie. Hy het dus net twee geelkaarte agter sy naam en stap skotvry van die verhoor af weg. En die skop in die rug?

Draai die horlosie  terug: Bismarck du Plessis het op Kingspark byna `n soortgelyke oortreding begaan. Hy het hom ook probeer losruk nadat hy weg van die spel af onwettig vasgehou is. Du Plessis het  voet ingelê en sy teenstander getref. Vier weke!

Ek kondoneer sy vuilspel geensins nie en hy het sy straf verdien, maar pas dit asseblieftog konsekwent toe.

Moet Sanzar nie die speler wat die eerste oortreding begaan, ook uitwys en `n voorbeeld van hom maak nie? Maar weet u wat, die ou wat aan Du Plessis se trui gerem het, is ook Tamati Ellison wat Saterdag aan James Lowe se trek getrek het, en hy gaan dit weer en weer doen … en daarmee wegkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.