Sarries se Springbok-Schalke druk saam-saam

Schalk Brits – speler van die wedstryd. (Foto: Laureus)

Saracens se twee Springbok-Schalke het albei in die jongste ronde van die Engelse Premierliga agter die doellyn gaan kuier.

Brits (haker) en Burger (flank) se drieë het Sarries gehelp om Bath met 41-6 te verrinneweer.

Eersgenoemde se fisieke verdediging en sy bedreiging by die afbreekpunte het hom die eer as speler van die wedstryd besorg.

♦ Die Bok-skrumskakel Cobus Reinach het die beste drie tot Northampton se sege van 27-21 oor Leicester bygedra.

ʼn Gaping is met ʼn ingeoefende beweging langs ʼn lynstaan geskep en Reinach is soos blits daardeur om sy span se beheer oor die wedstryd te vestig.

♦ Ruan Ackermann (plaasvervangeragsteman), wat al vir Suid-Afrika A gespeel het, het in die doodsnikke van die wedstryd ʼn drie vir Gloucester teen Harlequins gedruk.

Dit het sy span met 37-9 laat wen, en die bonuspunt besorg om sy skrale kans te behou om die halfeindronde te haal.

♦ Dean Hammond (plaasvervangerheelagter), ʼn SA o.21- en WP-Curriebekerspeler, het ʼn drie vir die verloorspan in Wasps se oorwinning van 30-15 oor Northampton gedruk.

Na berig word, het ʼn verbysterende breekslag van die Bok Willie le Roux (heelagter) Worcester se verdediging aan flarde gekerf voordat Christian Wade 40 m genael het om dié beweging met die beste drie van die wedstryd af te rond.

Richardt Strauss – drie. (Foto: Leinster Rugby)

Pro14-liga

♦ Saam-saam met die oplewing in sy Springbokneef, Adriaan Strauss, se Superrugby, was Richardt Strauss (plaasvervangerhaker) Saterdag in die nuus toe hy ʼn drie vir die Ierse provinsie Leinster in ʼn Pro14-botsing teen die Italiaanse klub Benetton Treviso gedruk het.

Die Italianers het met 17-15 gewen.

Strauss (Richardt) het Ierland in 17 toetse verteenwoordig.

♦ Duhan van der Merwe (linkervleuel), ʼn gewese SA o.21-speler, wat die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebekerreeks verteenwoordig het, het twee drieë vir die Skotse superklub Edinburgh teen die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) gedruk.

Edinburgh het die wedstryd met 52-14 oorheers.

♦ ʼn Drie deur Johan Meyer (flank) het die Italiaanse klub Zebre (Parma) gehelp om die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons met 34-32 te verslaan.

Hy het die Sharks in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig.

JW Bell – drie. (Foto: YouTube)

Spaanse Liga van Eer

♦ In die Spaanse Liga van Eer het JW Bell (heelagter), wat Superrugby vir die Lions gespeel het, ʼn drie vir VRAC Quesos Entrepinares teen Competense Cisneros gedruk.

Sy span het die teenstanders met 80-14 oorweldig.

♦ Christian Rust (losskakel) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Silverstorm El Salvador in sy sege van 37-17 oor Sanitas Alcobendas behaal.

Hy het Curriebekerrugby vir die Boland gespeel.

Engelse Kampioenskap

♦ In die Engelse Kampioenskap het die Namibiese toetsspeler Lesley Klim (plaasvervangerbuitesenter) Doncaster se enigste drie in sy nederlaag van 10-68 teen Bristol gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.