Saru: Alexander bly die toutjies trek

Mark Alexander – as Saru se president herkies. Foto: Facebook/Saru

Daar is vooraf verwag dat die winde van veranderinge deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sou waai, maar daardie verwagtinge is nie Vrydag op die jaarvergadering in Kaapstad bewaarheid nie.

Mark Alexander, Saru se president, is vir nog vier jaar verkies nadat hy adv. André May van die Luiperds, wat hom teengestaan het, met ʼn volstrekte meerderheid verslaan het.

Daar is bespiegel dat May op die steun van die kleiner unies en twee van die Superfranchises kon staat maak, maar dit het nie gebeur nie.

Net so het Francois Davids sy pos as adjunkpresident behou nadat dr. Jan Marais van die Griffons hom nie uit die kussings kon lig nie. Die twee bykomende lede wat tot die uitvoerende bestuur verkies is, is Hein Mentz (Pumas) en Lindsay Mould (Cheetahs).

Hulle het onder meer vir Thelo Wakefield (Westelike Provinsie), JJ van der Mescht (Blou Bulle) en Arthob Petersen (Boland) verslaan.

Saru het ook besluit om nie sy grondwet te verander nie omdat die vereiste 60 dae-kennis nie daarvoor gegee is nie. Daar was sprake dat Saru vir Ilhaam Groenewald, die Maties se direkteur van sport, as sy derde afgevaardigde met stemreg na Wêreldrugby sou stuur nadat die wêreldbeheerliggaam onlangs daarvoor voorsiening gemaak het (mits dit ʼn vrou is).

Groenewald is die enigste vroulike lid op Saru se uitvoerende bestuur.

Die Blou Bulle se mosie dat buitepartye 100% van die belange van die bonde se sakevleuel kan beheer, is ter elfder ure onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rugga007 ·

Hoe domastrant kan SARU wees,die enigste manier van oorlewing van ons rugby en behoud van ons spelers is as ons spanne toeglaat word on deur privaat maatskappye te bestuur word.

Rugga007 ·

DANKIE TOG,SAL GRAAG WIL HOOR HOE MEDE BURGERS HIEROOR VOEL

Jean ·

Saru en Suid Afrikaanse rugby is verdoem vir nog 4 jaar…ai

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.