Saru bevestig Bok-toets in Washington

RFK-stadion, Washington. (Foto: Twitter)

Dis lankal op die lappe, maar die SA Rugbyunie (Saru) het Maandag bevestig dat die Springbokke en Wallis mekaar op 2 Junie in Washington, Amerika, in ʼn toets aandurf.

Dis bepaal vir 23:00 SA tyd in die Robert F Kennedy-stadion in die Amerikaanse hoofstad, en VSA Rugby se sake-afdeling Rugby International Marketing (RIM) bied dit aan.

Kommentators het die afgelope tyd die wysheid van die toets uit ʼn rugby-oogpunt bevraagteken, en daar word aanvaar dat dit ʼn wanhoopsdaad in die lig van Saru se geldelike verknorsing is.

RIM se betrokkenheid dui egter daarop dat Saru en die Walliese Rugbyunie (WRU) nie die enigste is wat geldelike voordeel uit die toets sal trek nie.

In ʼn ironiese kinkel sal selfs die stinkryk Engelse Rugbyunie (RFU) waarskynlik uit die kragmeting geldmaak, want hy is ʼn aandeelhouer in RIM.

Dis juis omdat die Bokke ʼn week later op Ellispark in die eerste van drie toetse teen Engeland speel dat die Washingtonse toets nie rugbysin maak nie.

Benewens die nadelige uitwerking van vlugflouheid laat onvoldoende voorbereidingstyd vir die Engelse toets dit onwaarskynlik lyk dat die Bokspan wat in Washington speel ook op Ellispark sal uitdraf.

Jurie Roux, die hoof- uitvoerende beampte van Saru, se aweregse vergesig van ʼn Noordelike en ʼn Suidelike Bokspan kan dalk nou werklikheid word.

ʼn Mens kan nouliks sien dat die span vir Washington sterker as Suid-Afrika se naasbestes sal wees, daarvoor is ʼn oorwinning in die eerste toets van ʼn reeks (teen Engeland) te belangrik.

Dit lyk ook onwaarskynlik dat die Bokke se hoofafrigter albei spanne sal kan afrig sonder om êrens pap op die grond te laat val.

Rassie Erasmus se aanstelling in dié rol sal waarskynlik Woensdag deur Saru bevestig word. Dalk word lig ook by dié geleentheid op die afrigter(s) vir Washington gewerp.

Nog iets om aan te herkou: Wallis was in November in Cardiff te goed vir die Bokke, wat sal hy met die land se naasbestes doen? En in watter mate kan dié gedagte ʼn uitwerking op kaartjieverkope hê?

Laat ʼn mens maar hoop die Washingtonse kool is die sous werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Vraag gaan die Noordelike Bokspan op meriete gekies word en die Suiderlike Bokspan op kwotas?

Haanwil ·

Ag asseblief, hier ga’t die Saffa met die “meriete” weer. Daar is meer wit spelers wat ook nie op meriete daar is nie, selfde in die Protea span. Maar jul huil Kwota kwota kwota elke 2de minuut van n game.

Benn ·

Nou kan ons hier in DC ook sien hoe die bokke live verloor :D . dink ons moet ook sanksies instel en SA boikot tot hulle van hul rasistiese dinge ontslae raak. Nes almal met die ou regering gemaak het. Die bokke en proteas moet nie internationaal deelneem tot dit geregverdig is nie.

Johan ·

Haanwil, die realiteit is dat kwotas deel is van die spel en ‘n presedent skep. Kwotas bevoordeel swart spelers en het ‘n tweeledige effek. Eerstens word spelers wat “nie daar hoort nie” wel gekies. Tweedens en meer belangrik, plaas dit ongelukkig juis ‘n vraag oor van die swart spelers, wat natuurlik onregverdig is teenoor die swart spelers wat wel op meriete in die span is.

Jou opmerking oor “meer wit spelers wat nie op meriete daar is nie”, is natuurlik jou opinie – ons het elkeen maar ons opinie oor wie die beste speler in ‘n posisie is. Uit die aard van rugby sal dit maar altyd so wees. Vra 4 mense om hul beste slotkombinasie te kies (Etzebeth, de Jager, du Toit, Mostert om maar net 4 name te noem) en jy gaan waarskynlik 4 unieke antwoorde kry.

Dit is ‘n feit dat selfs op klubrugby vlak daar kwotas afgedwing word. Terwyl dit so is, sal daar altyd mense wees wat (met reg) kla. So Hendrik se kommentaar is baie geldig al klink dit nou al holrug gery. Net so holrug soos die ANC en EFF kla oor die wandade van die verlede, maar daaroor kla niemand as hulle daaroor kla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.