Saru, dink maar mooi oor die Pro14-reeks

Daar sal aan die einde van Mei, wanneer die Europese rugbyseisoen afgehandel word, hard gepraat moet word oor die Cheetahs en Southern Kings se deelname aan die Pro14-reeks.

Daar is geen omdraaipad nie, want die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het hom ses jaar daartoe verbind en wat die unie, volgens die BBC, sowat 6 miljoen pond (byna R108 miljoen) per jaar uit die sak jaag.

Mark Alexander, Saru se president, het voor Vrydag se jaarvergadering in Kaapstad gesê dat die unie bykomende fondse bekom het wat die koste vir die eerste jaar op R37 miljoen te staan gebring het.

Ja, dit was ʼn reddingboei vir die Cheetahs en Kings nadat hulle uit die Superreeks geskop is, maar het hulle daaraan voldoen?

Die Cheetahs, ja. Die Kings? Nee.

Die Cheetahs is derde in hul groep, met die Glasgow Warriors (70 ligapunte) wat die pas aangee, gevolg deur Munster (63) en die Cheetahs (57).

Volgens die kompetisiereëls dring die span wat eerste eindig, outomaties deur tot die halfeindronde, terwyl die spanne wat tweede en derde eindig, ʼn plek in die halfeindronde moet uitspeel.

Die Cheetahs sal na alle waarskynlikheid na Llanelli  in Wallis moet reis om die verdedigende kampioen, die Scarlets, in ʼn uitspeelwedstryd te pak – dié keer met al sy Walliese spelers, voor ʼn volgepakte Parc y Scarlets in Llanelli.

Een van die Cheetahs se grootste probleme is sy spelerdiepte, want hul afrigter, Rory Duncan, en die kaptein, Francois Venter, is op pad Worcester Warriors toe. Dan het die Walliese Scarlets vir Clinton Blommetjies en Usain Cassiem bekom en Tom Botha is op pad na die Ospreys, ook in Wallis.

Was dit die idee om ʼn voerband vir die Europese spanne te word?

Niemand weet werklik wat met die Kings se geldsake aangaan nie en nou is daar ook aansoek gedoen dat die Grens, en van sy voederunies, gelikwideer moet word.

Die Kings kon tot dusver net een wedstryd uit 19 wen en ʼn mens sou graag wou weet hoeveel dit Saru kos om die unie in stand te hou.

Die afgelope naweek het die legendariese oud-Walliese en Britse en Ierse Leeus-skrumskakel Gareth Edwards, ʼn pleidooi gelewer dat vier SA spanne in die Pro14-reeks moet speel.

Dink maar baie mooi daaroor, want wie sal baat daarby vind?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Ek het reeds by ‘n vorige berig gewaarsku dat SA-spanne in die Pro-14 reeks slagoffers van oorseese klubs met te veel geld gaan word.

Johan van Aswegen ·

Stem absoluut saam met Gareth Edwards, stuur nog spanne Pro14 toe, dan wen ons dalk iets. Moeg vir Super Rugby, reuse verskille in tydsones en om altyd te verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.