Saru-gesloer: ondersteuners het die reg om te weet

sa-rugby-logo-cropDit is nou meer as twee maande sedert die Saru-vergadering waar, soos hulle dit gestel het, “grensverskuiwende besluite” geneem is.

Toegegee, ʼn hele spul van hierdie besluite was administratief en belangrik. Trouens, in heelwat gevalle, is dit jare te laat geneem.

Maar dit wat op die veld gebeur, wat die land se voorste nasionale spanne moet voorberei om Suid-Afrika weer ʼn leier in wêreldrugby te maak, dít het sedert die vergadering vroeg in Desember agterweë gebly.

Daar is glo reeds op die Springbokafrigter – lees sommer afrigterspan – besluit.

Dit is verstaanbaar dat die heelwat administrasie soos die ondertekening van kontrakte eers kon plaasvind na byvoorbeeld moontlike onderhandelinge met unies (soos dalk in die geval van Franco Smith en JP Ferreira?) en ook met lande (soos in die geval van dalk Brendan Venter) tyd sou neem.

Die aankondiging kon dus nie gemaak word nie. Dit sou glo verlede Woensdag gewees het, maar is tot Vrydag uitgestel. Maar toe was daar Joost van der Westhuizen se gedenkdiens.

Nou sal hierdie aankondiging glo in die komende week geskied.

Wat egter net soveel pla, is die vertraging in die bekendmaking van die nuwe Curriebekerstruktuur; die aanwysing van die Junior Springbokke se afrigter; die besluit oor oorsese Bokke wat mag toetsrugby speel; die vordering van die “grensverskuiwende” besluite wat geneem is, insluitende die aandeelhoudingsprosedure om aandele in ʼn franchise te bekom.

♦  Curriebekerrugby het na verlede jaar se gemors met die sogenaamde “kwalifiserende ronde” in die oë van ondersteuners ʼn hierjy-kompetisie geword. Daar word gesê dat persepsie die waarheid is – en die Curriebekerreeks het ʼn baie negatiewe persepsie oor die eens pronkstuk van Suid-Afrikaanse rugby by toeskouers laat posvat.

Die Curriebekerreeks se drie w's: wie, wanneer en waar

Die Curriebekerreeks se drie w’s: wie, wanneer en waar

Ons is nou op dieselfde pad. Wie speel vanjaar in die Curriebekerreeks se Premierliga? Wanneer skop dit af? Is die voorafgaande reeks, iets soos die ou Vodacombeker, al beplan of op besluit? Wanneer begin dit?

Intussen is daar provinsiale afrigters, onder die franchise-vlak, wat week in en week uit met hulle groepe oefen sonder enige duidelikheid oor wanneer daar ʼn wedstryd sal wees.

In hierdie dae van wetenskaplike oefenmetodes, moet hulle darem seker ʼn idee kry van hoe en wanneer hulle wat moet oefen om op die regte tye gereed te wees.

Miskien weet Saru dit nie, maar die afrigters is hieroor nogal taamlik omgekrap.

♦  Die vertraging in die aanwysing van die Junior Springbokke se afrigter wat reeds die eerste oefenkampe misgeloop het, krap. Of het die aangewese man hierdie kampe wel bygewoon omdat hy reeds aangestel is maar ook wag vir die kontraktuele afhandeling?

Daar is ook die vraag hoeveel en watter insette die aangewese afrigter van die Junior Bokke sal hê in die uitdunning van die groot groep tot ʼn finale groep waaruit die nasionale span gekies sal word.

♦  Hoe lank neem dit nou werklik om te besluit oor oorsese Bokke in die toetsspan? Saru se kaarte word styf teen die bors gespeel, maar wie weet … miskien is daar onderhandelinge om oorsese spelers “los” te maak van hulle kontrakte om te mag Springbokrugby speel.

Dan sal hulle darem uit die staanspoor kan saamoefen met hulle toetsmaats en nie net ʼn dag of twee voor die tyd, en boonop onfiks, by hulle aansluit nie.

♦  Die Superrugby-afrigters sou weer bymekaarkom. Het hulle? Indien wel, wat is besluit/bespreek? Indien nie, hoekom het hulle nie weer gepraat nie?

Hierdie is sommer ʼn spul bespiegelings. En dit is verkeerd dat dit so moet wees. Die media en die ondersteuners het ʼn reg om te weet, want per slot van sake ‘behoort’ die Bokspan aan hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bok ·

Verander die nasionale span se naam na Proteas. Die trotse Springbok era is verby.

Veritas ·

Bok, so seer as wat dit maak, moet ek ongelukkig met jou saamstem. Ek dink die rede dat die Bokke verlede jaar so sleg gevaar het, kan net aan een ding toegeskryf word. Dit word genoem ‘Trots’. Dieselfde spelers het tog vir hul provinsies beter spel gelewer so die fout kan nie by talent of vorm gesoek word nie. Wanneer spelers diep moet grawe om trots op hul nasionale kleure te voel, is die skrif aan die muur.

Frans C ·

SARU is ‘n politieke verlengstuk van die ANC.Sport en dan veral rugby het ‘n politieke speelbal geword, wat tans nog glad te wit is ,na die regering se sin.

Dit is verstommend dat waar bv die samestelling van die NZ-superrugbyspanne maande gelede reeds afgehandel is, plaaslike afrigters nog steeds proefnemings doen om te besluit wie in of uit is.

Die geploeter lei daartoe dat alhoemeer spelers oorsee hul heil gaan soek soek en dat toekomstige Springbokspanne alhoemeer teen oorseese spanne gaan speel waarin oud landgenote ‘n prominente rol gaan vervul. Dit was tog immers ‘n Suid Afrikaner wat ‘n voorspelerdrie in die skokkende neerlaag teen Italie gedruk het en ‘n Suid Afrikaanse afrigter,wat hul verdediging help opknap het.

Suid Afrikaanse rugby sal nooit weer dieselfde wees nie en eintlik moes Springbokrugby
volgens my lankal afgesluit gewees het en ‘n nuwe geskiedenis met ‘n getransformeerde span met ‘n ander naam die nuwe era ingelui het.

Want om die bokkie so te sien blêr is tog altenaar.

chrisp ·

Stem saam ek is ‘n groot Springbok en rugby ondersteuner wat nou die Iere en AB ondersteun.
Springbok rugby bestaan nie meer nie punt. As jy ‘n TATA wapen op ‘n Mercedes sit bly dit ‘n TATA. Net so goed jy sit ‘n silwer varing op Gaboen se nasionale span rugby trui en noem hulle die AB. Belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.