Saru glo geo-politieke indeling kan klubs red

springbokDie SA Rugbyunie (Saru) glo die beoogde geo-politieke indeling van rugby kan slaag en dat veral klubrugby wesenlik baat daarby kan vind, en dit in `n groot mate `n reddingsboei aan die sukkelende klubstelsel kan bied.

Die nasionale liggaam en die bonde voer reeds die afgelope paar jaar gesprek oor die toepassing van so `n stelsel en vandeesweek se verwagte besluit in Kaapstad sal merendeels die administratiewe struktuur raak en min sal in die praktyk verander.

Soos Pale Toe! Woensdag berig het, sal die 14 provinsiale bonde en die franchise’e bly voortbestaan en daar word `n tussenvlak beoog waar die bestaande bonde in die geo-politieke grense ingepas word met, byvoorbeeld, `n Gautengse Rugbyunie met drie lede – die Blou Bulle, die Goue Leeus en die Valke – elkeen met gelyke stemreg in die hoofraad.

In wese sal die beroepstrukture, minstens voorlopig, nie geraak word nie, maar Saru glo die geo-politieke herbelyning kan groot voordele vir klubrugby inhou, veral wat mededinging op `n krag-teen-kraggrondslag en meer klubrugby op TV betref.

Behalwe in die Oos-Kaap waar `n suksesvolle oorgrensliga reeds bedryf word, en dit aanstaande jaar as `n toetslopie vir die res van die land kan dien, word praktiese toepassing nie voor 2018 voorsien nie.

Uit gesprekke is dit duidelik dat die bonde teësinnig is om radikaal van die status quo af te wyk, en daar word jaloers oor die voortbestaan van tradisieryke reekse soos dié om die Carlton- en Pirates-grootuitdaagbeker gewaak.

Mettertyd insink

Saru hoop die opvatting van geo-politieke herbelyning en die voordele wat dit kan inhou, sal metteryd by die bonde insink.

Daar word in wese gestreef na `n klubseisoen met provinsiale, streek- en nasionale onderdele wat tot `n hoogtepunt met die reeks om die Goue Beker opbou.

Dit kom daarop neer dat die bonde se ligas (seker ook net die topligas) vroeg in die seisoen afgehandel sal word, waarna die streekliga soos die Oos-Kaapse Super12 sy beurt kry en die seisoen met die reeks om die Goue Beker afgesluit word.

Vrystaatse bonde

Dit is tans nog nie duidelik waar die universiteite se reeks om die Varsitybeker sal inpas nie, aangesien dit lyk of sy huidige bepaling aan die begin van die seisoen met die vervroegde klubligas kan bots.

Naas die Gautengse bonde lyk dit of samesprekings met die Vrystaatse bonde – die Vrystaat en die Griffons – die verste gevorder het.

Sover vasgestel kan word is die gedagte dat die Bloemfonteinse, Noord-Vrystaatse (Griffons) en Oos-Vrystaatse (Griffons-Oos) klubs benewens die plaaslike ligas ook `n Geheel Vrystaatse liga uitspook.

Harder werk

Harder werk lê waarskynlik in die Westelike Provinsie, Boland en die Suidwestelike Distrikte voor waar die geweldige getalle klubs moeilik by `n korter klubseisoen sal inpas. Die uitspeelrondes van die Bolandse klubreekse is, byvoorbeeld, vanjaar eers ná die reeks om die Goue Beker afgehandel.

In al die gevalle is die gedagte steeds dat die bondeligas die deelnemers aan die reeks om die Goue Beker bepaal, en kan die streekreekse hulle in die voorbereiding internasionale reeks help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.