Saru, gryp nou julle kans aan

Dis nóú die tyd vir die Suid-Afrikaanse rugbybase om hul besluit om nie vir die volgende Wêreldbekerbod aansoek te doen nie, in heroorweging te neem.

Ja, daar sal baie kritiek wees, want die vrese bly bestaan dat die regering die proses (weer) sal kaap en aan rugby sal bly voorskryf. Ook dat die land dit nie kan bekostig nie en dat die miljoene veel eerder op ander terreine aangewend word.

Wêreldrugby het Maandag in Dublin die eerste keer vergader sedert die Wêreldbekerbod vir 2023 verlede jaar op omstrede wyse aan Frankryk toegeken is nadat Suid-Afrika die aanbevole kandidaat was, maar in ʼn geheime stemming verslaan is. Die bod is aan Frankryk toegestaan omdat sy beoogde inkomste en winste veel groter as dié van Suid-Afrika en Ierland sou wees.

Die rugbybase is met rooi gesigte gelaat, want dit het daarop neergekom dat net lande met die bultende beursies voortaan die bod sou kry, tensy die bodproses verander sou word.

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het Dinsdag in ʼn onderhoud met die Daily Telegraph gesê dat die debat verder gevoer sal word. Hy het voorgestel dat wanneer daar voortaan oor die WB-bod gestem word, dit dalk vir drie opeenvolgende toernooie moet wees – twee daarvan aan die lande met die bultende beursies en die derde aan ʼn land om rugby te ontwikkel, soos Ierland, die VSA of Argentinië.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase moet hul kaarte nou reg speel, want Wêreldrugby sal sy blaps wil regstel, die vertroue laat herstel en na alle waarskynlikheid die volgende drie toernooie aan Suid-Afrika, Ierland en die VSA/Argentinië op ʼn skinkbord gee.

Hoe langer daar gewag word, hoe minder kans sal  Suid-Afrika hê en hoe duurder sal dit raak. Die stadions is nou nog eksie-perfeksie, maar wat van oor 10/15/20 jaar? Gaan kyk maar net hoe vinnig die Olimpiese en sokkerstadions binne drie jaar verval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dit is vir my duister hoekom die skrywer (en kommentators) so seergemaak voel dat wêrelrugby nie bereid is om langer sy vlagskip toernooi aan ‘n blatant rasistiese organisasie soos SARU toe te vertrou nie.
Dink die mense eerlik dat hulle verfoeilike aksies van die laaste nog nie rugbaar geword het nie?

Veritas ·

Johan, ek kan regtig nie sien hoekom SARU so graag die wêreldbeker wil aanbied nie. Die misdaadsituasie in die land gaan sekuriteit ‘n nagmerrie maak. Voeg daarby die feit dat die ANC besluit het om eiendom, sonder vergoeding, af te neem en Suid-Afrika in net nog ‘n gefaalde Afrika-land te omskep. Die WRU sal regtig dom wees om SA weer ‘n kans te gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.