Saru sal ʼn oproep na Wêreldrugby moet maak

Britse Barbarians-cropIewers is die lyne gekruis, want volgens Wêreldrugby se amptelike bepalingslys wat gister bekend gemaak is, is daar geen rede waarom die Springbokafrigter, Allister Coetzee, nie sy Springbokke wat oorsee en in Japan speel, op 4 November teen die Barbarians in die Wembley-stadion in Londen mag kies nie.

Wêreldrugby het die finale bepalingslys van 47 toetse, wat 28 lande insluit, vir die toetse wat op Vrydag 3 November begin en tot Saterdag, 3 Desember strek, bevestig. Die toetse wat die top-lande insluit, is maande gelede reeds bevestig, maar toetse tussen tweedevlak-lande het nou bygekom.

Daar was aanvanklik onduidelik of Coetzee sy Bokke wat oorsee of in Japan speel, vir die kragmeting mag kies. As dit wel buite die toetsvenster geval het, sou Coetzee nie vir Duane Vermeulen, Willem Alberts, Johan Goosen, Bryan Habana, Morné Steyn en Steven Kitshoff (almal Frankryk), Willie le Roux, Francois Hougaard, Vincent Koch, Francois Louw, JP Pietersen (almal Engeland) en Jaco Kriel, Warren Whiteley, Lionel Mapoe, Franco Mostert en Elton Jantjies (almal Japan) en die geskorste Lood de Jager kon kies nie.

Die November-toetse begin op 3 November wanneer die VSA teen die Nieu-Seelandse Maori in Chicago pak. Op 4 November speel die All Blacks teen Ierland (ook in Chicago), Wallis speel teen die Wallabies in Cardiff, Japan pak Argentinië in Tokio en die Bokke speel teen die Baabaas.

Die toetsvenster eindig op 3 Desember wanneer Engeland teen die Wallabies speel.

Wat wel waar is, is dat die Bokke se wedstryd nie as ʼn toets beskou word nie, aangesien die Baabaa-keurders gewoonlik een of selfs twee nie-toetsspelers kies.

♦  Dit bring ʼn mens by die ander tameletjie: moet Coetzee en die Bok-keurder, Peter Jooste, spelers oorweeg wat oorsee speel?

Die rugbybase moes jare gelede al ʼn beleid vasgepen het, maar hulle het die deur vir Heyneke Meyer en nou vir Coetzee oopgelaat.  Die All Blacks doen dit nie; ook nie Engeland en Argentinië nie.

Die Wallabies het ʼn skuiwergat dat hulle wel oorsese spelers mag kies mits hulle in 60 toetse of meer toetse gespeel het.

Namate die 2016-seisoen gevorder het, het dié spelers al hoe minder geraak en Matt Giteau, Adam Ashley-Cooper en Drew Mitchell is almal terug in Frankryk.

Maar Coetzee is reeds in ʼn knyptang waaruit hy kwalik kan ontsnap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Skakel oorsee se spelers uit, bouspan met die wat bereid is om hier te bly en speel al vat dit n paar verlore!!

johannes ·

Ek stem skakel oorsee (Europa ) spelers uit en begin bou vir 2019 wereldbeker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.