Saru se ‘geheim’ is uit: Rassie rig die Bokke af

Rassie Erasmus – nuwe Bokafrigter. (Foto: Twitter munsterrugby)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se swaks bewaarde geheim is uit.

Nadat daar weke lank ge-oe en ge-aa is, is Rassie Erasmus (45), die voormalige Springbokflank en Saru se direkteur van afrigting, Donderdag oplaas tot aan die einde van 2023 as Bokafrigter aangestel.

Dit is die eerste keer dat ʼn afrigter vir só ʼn lang tydperk aangestel word, want Erasmus sal in beheer van die span vir twee Wêreldbekertoernooie wees – aanstaande jaar in Japan en ook in 2023 in Frankryk.

Erasmus, wat by Allister Coetzee oorneem, sal deur net drie hulpafrigters, Jacques Nienaber (wat voorheen saam met hom by die Stormers en Munster was) , Pieter de Villiers (die oud-Franse stut) en Mzwandile Stick (wat nie in 2016 die mas onder Coetzee opgekom het nie) bygestaan word.

Aled Walters, wat tot onlangs nog na Munster se fiksheid omgesien het, is as  hoof van “atletiese vertonings” (wat dit ook al mag beteken … kom ons noem hom sommer die fiksheid- en kondisioneringsafrigter),  aangestel.

Dis ʼn groot skommeling, want afgesien van Coetzee, is Franco Smith, Brendan Venter en Matt Proudfoot ook nie meer aan boord nie. Die Springbokke se bestuurder sedert 2012, Ian Schwartz, is ook nou by Saru by die departement vir strategiese gehaltebestuur aangestel.

Sy eerste taak sal wees om die Springbokke  vir die toets teen Wallis  in Washinton op 30 Junie en dan vir die drie opeenvolgende toetse op die volgende drie Saterdae teen Engeland voor te berei.

Erasmus, soos die meeste rugbyondersteuners, weet reeds lankal dat hy die pos sou oorneem en het al werk daarvan begin maak om ʼn suksesvolle Wêreldbekertoernooi te verseker.

“Ons het 18 toetse en net minder as 600 dae oor voordat die toernooi aanstaande jaar in Japan begin. Hoewel daar al heelwat beplanning in ons voorbereiding vir die toernooi gedoen is, is dit belangrik dat ons deeglik voorberei vir die wedstryde teen Wallis en Engeland.”

Gaan Erasmus dit maak?

Hy het sy groot vertrouelinge aangestel, hy het die luukse dat hy vir ses jaar aangestel is, as Saru se direkteur van afrigting sal hy die toutjies trek en alles kry waarvoor hy vra, maar die grootste struikelblok sal steeds wees om aan Saru se transformasievereistes te voldoen.

En, die Bokke sal darem vir ʼn slag moet wen ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ruan ·

Ek se al lankal hy moet oorvat. Die kwota sisteem moet weg val. As ‘n speler goed is laat hom speel ongeag van ras of kleur.

Lukie Carelsen ·

Rassie het ingestem tot die transformasie vereistes???

Dis genoeg om van siek te word!

Transformasie/kwotas/politiese inmenging is ‘n RAMP vir ons rugby.

Dit was regtig nie wat ek van Rassie verwag het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.