Saru se Goue Beker-keuses lyk geregverdig

Tygerberg se Wilbre van Wyk op die aanval teen Progress. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die vroeë aanduiding is dat albei die SA Rugbyunie se promotorskeuses vir vanjaar se internasionale Goue Bekertoernooi geregverdig is.

Tygerberg (Westelike Provinsie) het Sondag in Ravensmead in ʼn skouspelagtige wedstryd die Oostelike Provinsie se kampioen, Progress van Uitenhage, met 54-27 geklop.

Die Tiere het ses drieë teen vyf gedruk, en die Oos-Kaaplanders sal ernstige aandag aan hul dissipline en skopwerk pale toe moet bestee.

Deon Taljaard (binnesenter) het 24 van die wenspan se punte aangeteken. Hy het al ses sy span se drieë verdoel en met vier strafdoele geslaag.

Dat die WP se vierde beste klub die OP-kampioen so ver kon klop, moet egter ook as waarskuwing vir klubrugby in laasgenoemde bond dien.

Die OP-verteenwoordiger het sedert die instelling van die reeks om die Gemeenskapsbeker in 2013 nog elke jaar die kwarteindstryd gehaal, en Dispatch het die aanvangsreeks gewen.

Deon Taljaard – 24 punte. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

ʼn Gebrek aan geld en tyd het ʼn uitdunronde in die slag laat bly, maar dit lyk of Saru raakgevat het met sy keuse om die twee vakatures in die twintigtal te vul.

Die ander promotorskeuse, Swallows van Mdantsane, het Saterdag met die Grens-kampioen, Old Selbornians, afgereken, en is ná die eerste weekronde tweede ná Tygerberg in Groep C.

Die opgesomde punteleer so lyk: Tygerberg 5, Swallows 5, Old Selbornians 2, Progress (Uitenhage) 1, Progress (George) 0.
Laasgenoemde, die Suidwestelike Distrikte se kampioen, het ʼn loslootjie gehad.

Dit het intussen geblyk dat die verdedigende Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), sy wedstryd teen Bloemfontein Polisie (Vrystaat) met 31-10 gewen het en nie 28-10 soos aanvanklik berig is nie.

Die Vrystaatse Bobbies was rustyd op Rustenburg met 3-0 voor.

Onderstaande puntemakers sluit ook dié in wat met Pale Toe! se vorige beriggewing ontbreek het.

Die College Rovers-heelagter, Gavin Scott, het 19 punte (ʼn drie, vier doelskoppe en twee strafdoele) teen Western Suburbs op die telbord geplaas.

Die puntemakers –

Tygerberg teen Progress (Uitenhage)

Tygerberg 54 (19) – Drieë: Shameegh Allen (2), Tiny van Wyk, Keagan May, Daniel Roberts, Percy Goliat. Doelskoppe: Deon Taljaard (6). Strafdoele: Deon Taljaard (4).

Progress (Uitenhage) 27 (17) – Drieë: Deon Plaatjies, Sonwabo Majola, Anthony Roman (2), Comfort Louw. Doelskop: Anthony Roman.

Impala teen Polisie

Impala 31 (0) – Drieë: Aubrey Mcdonald, McDonald Duma, Louis Hollamby, Leon du Plessis. Doelskoppe: Cecil Dumond (4).

Polisie 10 (3) – Drie: MiniVan van Tonder. Doelskop: Divi Duvenhage. Strafdoel: Divi Duvenhage.

Western Suburbs teen College Rovers

Western Suburbs 17 (3) – Drieë: Gino Wilson (2). Doelskoppe: Justin Nel (2). Strafdoel: Justin Nel.

College Rovers 46 (21) – Drieë: Strafdrie, Brandon Bailing (2), Jarrett Crouch, Marthinus Volker. Doelskoppe: Gavin Scott (4). Strafdoele: Gavin Scott (2).

Vaal Reefs teen Northam Rhinos

Vaal Reefs 21 (14) – Drieë: Pieter Crafford, Danie Crafford, Aden Jones. Doelskoppe: JP Harris (3).

Northam 27 (20) – Drieë: Wouter de Villiers, Wortel Loots, Pieter van Heerden. Doelskoppe: Patrick Hattingh, Justin Botha (2). Strafdoele. Justin Botha (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.