Saru spook hard om Goue Beker-reeks te red

Die Goue Beker (links) se tuiste is tans, nes die Curriebeker s’n, in die Westelike Provinsie. Die kapteins, Graham Knoop (Valsbaai) en Chris van Zyl (WP), spog daarmee. (Foto: WPRU)

Die SA Rugbyunie (Saru) spook, na wat vasgestel kan word, hard om te verseker dat die oop klubs se gewilde internasionale reeks om die Goue Beker (GB) vanjaar voortgesit word.

Die nasionale liggaam is glo hoopvol dat hy wel ʼn borg sal kan vasknoop.

Saru volg die beginsel dat geen reeks of toernooi sonder ʼn borg voortgesit sal word nie, en om dié rede is die GB-reeks nog in die weegskaal.

Die bonde en klubs is dienooreenkomstig in kennis gestel, en op die oog af lyk dit of hulle begrip vir die omstandighede het.

Die provinsiale toernooi vir amateurspanne het verlede jaar al kragtens dié beleid in die stof gebyt, en dit sal ʼn groot slag vir amateurrugby wees as die oop klubs se reeks eweneens in die slag bly.

Die GB-reeks het die afgelope jare ʼn enorme rol daarin gespeel om nuwe lewe in Suid-Afrikaanse klubrugby te blaas, en Saru verdien ʼn pluimpie vir wat daarmee bereik is. Rugby op dié vlak – en Suid-Afrikaanse rugby in sy geheel – kan veral nóú nie bekostig dat die reeks tot niet gaan nie.

Die bydrae van klubrugby tot die ontwikkeling van spelers word nie aldag na waarde geskat nie, en die onsekerheid oor die reeks se voortbestaan het ongelukkig ook ʼn negatiewe impak op die voorste klubs se vermoë om borge te werf.

’n Mens hou veral duim vas ter wille van ʼn klub soos East Rand United (ERU) van die Valke, wat reeds as ʼn promotorskeuse vir vanjaar se beplande toernooi geoormerk is.

ERU het Saterdag verras deur Centurion, die afgelope jare een van die Blou Bulle se topklubs, met 29-19 in die Noorderbonde se Superliga te troef. Dit dui daarop dat hy goed vorder met sy voorbereiding om hom in die GB-reeks te laat geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.