Saru swyg, maar Blitsbokke glo borg kwyt

Wanneer ʼn bekende sportman of -vrou oor die tou trap, maak nie saak waarvoor nie, is dit die reël dat sy of haar borg dadelik hulle verbintenis verbreek. Die teendeel geld klaarblyklik as dit die borg is wat die beweerde skandes maak.

Die SA Rugbyunie (Saru) het onmiddellik, reeds in Desember, toe die “rekeningkundige onreëlmatighede” van Steinhoff aan die lig gekom het, samesprekings met hierdie borg van die Blitsbokke gevoer.

Geen verklaring is toe uitgereik nie en daar is steeds geen amptelike verklaring nie. Volgens die berigte lyk dit of die optrede van Steinhoff se kant gekom het wat nie met die borgskap sal voortgaan nie.

Steinhoff, wat sy oorsprong in Duitsland het maar in Suid-Afrika gebaseer is, is ʼn globale meubel- en huishoudelikegoedere-handelaar met meer as 40 handelsmerke in meer as 30 lande. Die maatskappy het in Desember gevra dat ʼn ondersoek gedoen word na beweerde rekeningkundige onreëlmatighede en moontlike bedrog en hulle uitvoerende hoof, Markus Jooste, het bedank.

Vir Saru, reeds onder kwaai finansiële druk, wat onder meer tot die inkorting en selfs afskaffing van nasionale kompetisies gelei het, is die verlies aan die Blitsbokke se borgskap baie slegte nuus – en moontlik ook die rede hoekom hulle ondanks Steinhoff se situasie hulle nie openlik van die borg gedistansieer het nie.

♦  Steinhoff is natuurlik ook die stigtersborg van die Varsitybekerreeks waarvan die eerste wedstryde in die 2018-reeks Maandag oor drie weke gespeel word. ʼn Besluit oor hulle voortgesette borgskap sal na verwagting aanstaande week bekend gemaak word.

Ook Maties Sport word geldelik deur Steinhoff ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.