Saterdae was volmaak

Klubrugby: Pretoria Polisie teen Oostelikes

Klubrugby: Pretoria Polisie teen Oostelikes

Saterdae sal nooit weer dieselfde wees nie.

As jong kannetjies het ons na die ou Loftus Versfeld gestroom om ons helde te sien klubrugby speel.

Tukkies, Polisie, Weermag, Oostelikes, Harlequins, Pretoria, Gevangeniswese, Adelaar en later ook Normaal Kollege.

Vir die hoofwedstryd op die A-veld, maar ook vir die vroeë wedstryd op die B-veld, of tussen die B- en C-veld, langs die tou op die krieketkolfblad.

Daar waar Frik du Preez, Piet Uys, Mof en Klein Mof Myburg, Mannetjies Roux, Hans Moller, Louis Schmidt, Katmuis Conradie, Thys Lourens en baie ander legendes geslyp is.

Jy was langs die veld met jou handtekeningboekie, jy kon hoor wat spelers sê (nie dat hulle destyds baie op die veld gepraat het nie) , jy kon die ‘Deep Heat’ ruik.

Op pad Loftus toe is daar altyd ʼn pakkie nartjies gekoop, die programme wat net uit en of twee gedrukte bladsye met die spanlyste daarop bestaan het, is  met ʼn donasie ten bate van die SA Noodhulpliga  buite die stadion gekoop. Tydens  wedstryde het die Noodhulpliga, of die Pynpolisie soos hulle bekend gestaan het, noodhulp gedoen. Een of twee bottels water, dalk ʼn sakkie ys, verbande en pleisters en ʼn draagbaar as daar ernstige beserings was.

Wanneer ʼn speler se broek geskeur het –  dit het baie gebeur omdat dit nie geborg was nie – het die res van sy spanmaats kringetjie gemaak.  Só ook rustyd, wanneer die kaptein hard gepraat het. Hier en daar ʼn swetswoord, maar jou ore was toe.

Rustyd, of aan die einde van die eerste wedstryd, het pa vir jou ʼn warm pastei en koffie onder die ou Suidelike Paviljoen by tannie Johanna Raath se Vrouefederasie-stalletjie gekoop.  Soms was die pasteie nog koud,  want daar was net twee oonde, maar nou ja, dit was vir ʼn goeie doel.

Ná die wedstryde is jy huis toe en kon jy nie wag vir kwart oor sewe wanneer Sportjoernaal op die SAUK uitgesaai is nie. Jy wou weer hoor hoe Tukkies vir Polisie, of andersom, geklop het. Jy wou weer hoor hoe Weermag, of die Uile (Oostelikes) en die Likkewane (Gevangeniswese)  verras het. Jy wou ook hoor wat in Johannesburg en omstreke aangaan, of Diggers se Transvaalspan Vereeniging kon klop.

Jou dag was volmaak.

Maar noudat al hoe meer klubs in die stof byt, wat gaan vandag se kannetjies oor 20 jaar aan hul kinders oorvertel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

En jy’s reg Pieter, dit sal nooit weer dieselfde wees nie. Die besluit om te skuif was nie maklik nie maar ons glo dis eerder die begin van ‘n nuwe, opwindende era. Dis tog belangrik om te meld dat Polisie nie in die stof gebyt het nie maar eerder besluit het om aan te beweeg terwyl dit nog goed gaan. Tye verander teen ‘n skrikwekkende spoed en ons moes aanpas. Kyk waar staan die eens magtige OP, WP en nog ‘n paar ander is oppad.
Daar was reeds in 2003 geluide gemaak dat Polisie sy deure moes sluit maar ‘n klompie van ons, met die hulp van’n paar getroue borge, het vir nog 14 jaar vasgebyt, die Carlton en Assupol reeks weer ‘n paar keer gewen en die Bulle in die Gemeenskap Beker verteenwoordig. Ons het dit ook reggekry dat die vorige adjunk en huidige president van die BBRU uit ons geledere kom.
Ongelukkig kan geen klub sonder ‘n “tuiste” dit meer op sy eie maak nie. Ons was nie meer welkom in die Polisie Kollege nie, moes toe na die ou Pretoria velde skuif, maar weens ‘n voorgestelde ontwikkeling daar moes ons maar weer begin soek. Harlequins het ons met ope arms ontvang en ‘n nuwe era gaan begin. Geen woorde kan dankie sê aan almal wie deur die jare deel van hierdie geskiedkundige klub was nie. Ons glo dat Quins/Bobbies ons in die toekoms gaan trots maak. Groetnis. Johann Kluyts

Pieter Kruger ·

Johan

Geen ander keuse nie en baie sterkte aan Quins/Bobbies … ai, ai, ai

Nico K ·

Dis natuurlik die TV uitsendings wat die kykergetalle by klubwedstryde doodgemaak het. Nie dat mens iets daarteen kan doen nie. Maar daar was daai dae net een wedstryd op ‘n Saterdagmiddag en dit was op die naaste rugbyveld. Ek het in Uitenhage groot geword en onthou nog toe OC en Swifts groot vyande was en die kinders op skool nog verdeel was. (Ek dink nie die klubs bestaan meer nie.) TV het sy voordele maar daar is nou so baie wedstryde dat mens nie regtig meer uitsien na Saterdagmiddag se rugby nie.

Johann ·

Hi Nico
Was dit nie wonderlike dae nie ? OC, Swifs, Despatch, Park, Olympics, Crusaders, Polisie, selfs
GM en nog ander. Gawie Carelse, Fanie Cloete, die Zemke’s, Japan, Kierie en nog so baie …sjoe.
Dan Saterdagaande se berigte in die Evening Post en Maandae in die Oosterlig. Dit was asof jy elke klubspeler persoonlik geken het …….
Groete
Johann

Hannes Smith ·

Daar’s nog lekker rugby om te kyk. Gaan Saterdag oggende na die naaste Hoerskool en gaan kyk na die wedstryde. Ek doen dit en ek geniet dit meer as enige TV rugby,

Albert ·

Klubrugby se dood is klaar bepaal, ja TV het n deel daarin maar die stelsel van hoe skole se spanne wat hul Craven week veteenwoordig, maak dat al minder seuns wat kan rugby speel nog wil rugby speel na hy skool verlaat. Die skole sukkel om spanne vol te kry, en dit spoel oor na klubrugby. Die skole word nog deur besighede geborg wat se kind daar speel, klubrugby se status is baie lag in die rang orde dus sukkel hulle om enige borg te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.