Saterdag bevestig Kiwi’s sal moeiliker wees

super-rugby-2016-trophyDie Brumbies is nie te versmaai nie en het die Waratahs Saterdag veral in die skrums en afbreekpunte gekarnuffel en met 28-12 gewen, maar dit lyk in die vroeë stadium reeds of die Suid-Afrikaanse spanne in Afrika se groep 2 die verwagte voordeel in die Superreeks sal hê.

Die Lions, Sharks en die Kings speel al hul Australasiese wedstryde teen spanne  van Australië – en Saterdag het die Waratahs en die Brumbies se kragmeting sleg afgesteek teen dié tussen die kampioenspan van 2016, die Hurricanes, wat die Highlanders in Wellington met 41-15 afgestof het.

En is teen die Nieu-Seelandse spanne wat die Stormers, Cheetahs en Bulls moet meeding.

♦  Die veld in Sydney was Saterdag wel vol dou, en ja, die Waratahs het pas teruggekeer van twee verloor-wedstryde in Suid-Afrika. Maar sowat van foute maak met goeie besit sien jy selde – en dit was ʼn moedelose kaptein Michael Hooper wat erken het sy span het baie werk wat wag en ook beklemtoon het die vertoning is nie aan vlugflouheid te wyte nie.

Die Brumbies het beter gebiedsvoordeel gespeel, en met die beter besit in die vaste fasette en heelwat omkeerballe hul kanse gebruik. Hulle dryfmaal by die lynstane was ook baie goed.

Tog moes die Brumbies in die tweede helfte uithaal nadat die rustydtelling 7-elk was en hulle het die wedstryd eers in die laaste 19 minute beklink met twee langafstand-drieë teen ʼn span wat pas groot pakke slae teen die Lions en die Sharks gekry het.

Nee wat, as die Aussies glo hulle kan vyf spanne in die Superreeks behou as dié twee van hul beste is, leef hulle in ʼn droomwêreld.

Puntemakers –

Waratahs (7) 12 :  Drieë: Tom Robertson, Jake Gordon. Doelskop: Reece Robinson
Brumbies (7) 28: Drieë: Henry Speight 2, Tevita Kuridrani, Robbie Abel. Doelskoppe: Wharenui Hawera 4

♦  Hurricanes vs Highlanders

Teen rustyd, met die telling 10-8 in die Hurricanes se guns en die Highlanders wat in Wellington self inklimrugby gespeel het, het jy verwag: hier kom ʼn ding.

Dit wás ook so, maar dit was nie die verwagte taktiese stryd tot die einde toe wat na rustyd tussen die twee groot derby-vyande verwag is nie.

In die eerste tien minute na rustyd het die kampioenspan nog drie drieë by hulle twee voor rustyd gevoeg en was dit 19-15 nadat die Highlanders wat ook in die 46ste minuut een keer gaan druk het.

Vier drieë van twee topspanne binne tien minute waar dit om eer gaan en eerlike lakwerk nie afgeskeep word nie, vertel die storie van veral Hurricanes se vaardighede.

ʼn Verdere kenmerk van die wedstryd was die min strafskoppe (11) wat toegeken is, onder meer omdat albei spanne hul voordeel probeer benut het – en dit meestal reggekry het.

Die Highlanders het na die  blitskrieg vroeg in die tweede helfte self ʼn slag of twee amper gaan druk, maar toe dit werklik saakgemaak het, het die Hurricanes nog twee keer gaan druk om dit vyf drieë in die tweede helfte en sewe in die wedstryd te maak.

Heerlike hardlooprugby, met slim spel aan die steelkant na ʼn losgemaal, fop-aangeë, goeie ondersteuning en basiese dinge wat reg gedoen word, het gewaarsku: die Hurricanes wil die titel behou wat hulle so oortuigend teen die Lions in verlede jaar se eindstryd gewen het.

Puntemakers – 

Hurricanes (10) 41: Drieë: Ardia Savea, Ngani Laumape 2, Matt Proctor, Julian Savea, Vince Aso 2. Doelskoppe: Beauden Barrett, Jordie Barrett 2
Highlanders (8) 15: Drieë: Matt Faddes, Elliot Dixon. Doelskop: Marty Banks. Strafdoel: Fletcher Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ouboet2 ·

Die spanne wat vanjaar teen new zealand se spanne speel het verlede jaar teen Australiese spanne gespeel. Dit het die stormers erg ge expose

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.