Saterdag se heerlike feesmaal

Hugo Porta - dure les. (Foto: RWC)

Hugo Porta – dure les. (Foto: RWC)

Dis een van daardie skaars geleenthede in sport, wanneer `n rugby- en kriekettoets op dieselfde dag in `n land plaasvind.

Die Springbokke speel Saterdag  in die Mbombela-stadion in Nelspruit in die Rugbykampioenskap teen die Argentynse Poemas, en die eerste kriekettoets tussen die Proteas en Nieu-Seeland word op Kingsmead in Durban hervat.

Maar dis nie die eerste keer dat die Springbokke (ja, destyds het die krieketspan ook met ‘n Springbok op die pet gespeel en is Springbokke genoem) op dieselfde dag slaags was nie, dit het 34 jaar onder baie vreemder omstandighede ook plaasgevind.

Draai die horlosie terug na Saterdag 27 Maart 1982. Dit was aan die einde van die krieketseisoen en aan die begin van die rugbyseisoen.

Die Engelse rebelle-krieketspan (amptelik die SAB Engelse Elftal) van Graham Gooch het sy laaste vierdagwedstryd van sy omstrede toer in Suid-Afrika op Kingsmead teen Suid-Afrika gespeel en die Springbokrugbsypan het op Loftus Versfeld kragte gemeet met Hugo Porta se Suid-Amerikaanse Jaguars. Die span kon nie as Poemas toer nie, en het spelers van Chile, Paraguay en Uruguay ingesluit om die toer moontlik te maak.

Graham Gooch - rebelleleier. (Foto: The Guardian)

Graham Gooch – rebelleleier. (Foto: The Guardian)

Die krieketspan, wat deur Mike Procter en Barry Richards  in die “toetse” aangevoer is, het ander ysters soos Peter Kirsten, Graeme Pollock, Clive Rice, Adrian Kuiper, Alan Kourie, Ray Jennings, Garth le Roux, Stephen Jefferies, Vintcent van der Bill en Kenny Watson ingesluit. Hulle het die Engelse, wat “The Dirty Dozen” in Engeland gedoop is omdat hulle tussen £40 000 en £50 000 vir die toer ontvang het, in die “toetsreeks” oor vier dae getroef.

Die Bokke, wat in 1981 die All Blacks so byna in hul eie agterplaas geklop het, was op volle sterkte, met Carel du Plessis wat sy toetsbuiging gemaak het. Die Jaguars het vier maklike toerwedstryde voor die toets gespeel en Griekwas (44-3), Noordoos-Kaap (72-3), Natal (16-10) en Wes-Transvaal (30-10) voor die eerste toets geklop. Die Bokke het met 50-18 gewen, maar die tweede toets teen alle verwagtinge met 12-21 in Bloemfontein verloor.

Dit was nie die ware Jakob op die krieketveld nie, maar op die rugbyveld het die Bokke `n dure les geleer – moet nooit jou teenstander onderskat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.