Saterdag se Super 12 deurslaggewend vir meeste

gardensSaterdag se derde ronde in die Oos-Kaapse Super 12-reeks kan vir die meeste spanne deurslaggewend wees, nadat byna al die deelnemers al `n slag slae gekry het.

Veral die provinsiale kampioene Gardens van Uitenhage (Oostelike Provinsie), wat ook die Super 12-kampioen is, en Oos-Londen Polisie (Grens) sal hul status gestand wil doen.

Dis egter onwaarskynlik dat hulle die wedstryde op `n skinkbord sal kry.

Gardens speel teen Cambridge (Oos-Londen) wat derde in Groep A is en `n gulde kans sal verspeel deur in die wegwedstryd op Rosedale te gly. Polisie het op Polisiepark in Oos-Londen te kampe met Despatch, wat jare lank een van Suid-Afrika se voorste klubspanne was, en nouliks met sy agterosstatus in Groep B gediend kan wees.

Spring Rose (New Brighton) en Swallows (Mdantsane) is albei onoorwonne nadat beide verlede week `n loslootjie gehad het, en het gevolglik `n groter as normale aansporing om `n nederlaag op laasgenoemde se veld af te weer.

Progress (Uitenhage) is die enigste span wat dusver met twee oorwinnings spog, maar kan nie te gerus wees nie. Sy teenstander, PE Harlequins, die tuisspan, was verlede jaar die groot verrassingspakkie in die OP se Grootuitdaagreeks. Quins het uiteindelik as die naaswenner uit die stryd getree toe Gardens hom 27-13 in die eindstryd getroef het.

In die ander wedstryd in Groep A speel die tweede geplaasde Park (Port Elizabeth) teen die agteros Breakers (Queenstown) en is hy die gunsteling om te wen. Breakers se tuisveldvoordeel in die Mlungisistadion, Komani, is egter `n faktor wat nie uit die oog verloor moet word nie.

Twee van die onderste spanne in Groep B, Buffaloes van Oos-Londen (vierde) en die Walter Sisulu-universiteit van Potsdam (vyfde), durf mekaar op Buffalo-park in die ander kragmeting aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.