Savea opgewonde oor All Blacks-leierskaprol

Ardie Savea in aksie vir die All Blacks. Foto: Michael Bradley/AFP.

Deur Stephaans Breytenbach

Ardie Savea is die nuwe kaptein van die All Blacks. Die toedrag van sake volg nadat die huidige kaptein, Sam Cane, ’n besering opgedoen het en volgens berigte eers aan die einde van die jaar sy terugkeer tot die spel sal maak.

Dan het ander ervare spelers soos Sam Whitelock en Aaron Smith nie saam met die span na Australië gereis nie.

Savea sal as kaptein dien en senior spelers soos Brodie Retallick en Beauden Barrett is sy adjudante.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid om die All Blacks aan te voer. Ek is baie opgewonde en dankbaar vir die geleentheid,” het Savea gesê.

Volgens Ian Foster, All Blacks-afrigter, het hy op die 27-jarige losvoorspeler besluit omdat hy ’n positiewe invloed op die span het.

“Daarbenewens begin Ardie nou ook speel soos wat ons almal weet hy kan. Hy weet hoe om die spelers te hanteer en dit behoort ’n wonderlike geleentheid vir hom te wees,” het Foster gesê.

Savea het sy All Blacks-buiging in 2016 teen Wallis gemaak en hy is die jonger broer van die agterlyn-blits, Julian Savea.

Hy sal sy kapteinskapbuiging in die komende Bledisloe-kragmeting teen Australië in Perth maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.