SC Warriors mik na derde Usherbeker-sege

matatieleSuid-Natal se topspan, South Coast Warriors (SCW), mik na sy derde opeenvolgende sege in die jaarlikse toernooi om die Usherbeker wat Saterdag op Matatiele plaasvind.

Stefan Steyn, Matatiele se voorsitter, het bevestig dat agt spanne aan die toernooi deelneem.

Behalwe Warriors, wat verlede jaar ná die Durbanse klub Jaguars tweede in die KwaZulu-Natalse Eerste Liga (Suid) was, en die gasheerklub, neem die Suid-KwaZulu-Natalse Subuniekampioen, Kapaailand van Maclear (wat teen Durban Mets in die uitklopreeks om die Findlaybeker verloor het), ook aan die toernooi deel.

Die ander spanne is Kokstad, Ixopo, Harding, Amangcesha en Gamalakhe.

♦ Christo Henderson, die hoofafrigter van SCW, sê die toernooi het die afgelope vyf jaar uiters mededingend geraak en sy span, wat vanjaar tot die KZN-Premierliga bevorder is, neem dit baie ernstig op.

“Dit speel `n baie belangrike rol in ons voorbereiding vir die ligaseisoen. Op die koop toe kan ons geskiedenis maak deur die eerste Warriors-span te word wat die beker sedert sy instelling in 1928 drie keer opeenvolgens wen. Boonop is ons die enigste Premierligaspan in die toernooi.”

Henderson sê die Warriors, wat op Uvongo gebaseer is, het buitenseisoens hard gewerk en die spelers het die afgelope Saterdag reeds getoon hulle is goed op pad om die vereiste peil te bereik toe hulle drie uit die vier bekers by die Suidkus- sewestoernooi gewen het.

south coast warriors - logo“Ons strukture moet 100% gereed wees, ons verdediging sal puik moet wees en dit sal straf wees om verlede jaar se peil te verhoog toe tydens die toernooi net drie punte teen ons aangeteken is.

“Ons sal moet seker maak ons kombinasies slaag en dat ons die diepte het om mededingend in die Premierliga te wees,” het Henderson aan Pale Toe! gesê.

Hy sê die klub het tans `n uitsoekgroep van 28 spelers wat tot 25 vir die Usherbeker verminder sal word.

“Ons het hope talent in die klub en moet die potensiaal ten volle benut. Dis altyd moeilik om spelers uit te laat en daar is dikwels min tussen twee spelers te kies. Spelers oefen hard, maar daar is net 25 plekke beskikbaar en ons moet die spelers gebruik wat die beste by ons wedstrydplan inskakel.”

Die Usherbeker-reëls voorsien vir slegs 22 spelers per wedstryd, plus drie reisende reserwes wat in die geval van beserings gebruik kan word.

Ons sal almal speelkans probeer gee, maar dit nie uit die oog verloor nie dat ons Saterdag `n beker te verdedig het.”

Hy sê die toernooi en vriendskaplike wedstryde teen Kokstad (tuis), Westville Old boys (weg) en Kapaailand (tuis) bied spelers die geleentheid om hul plekke in die uitsoekgroep te bespreek.

suidkussewes♦ Die Nashua Warriors, een van die gasheerklub se inskrywings, het die Suidkus-sewestoernooi gewen, wat Warriors die afgelope Saterdag op die Douglas Mitchell-sportterrein op Uvongo aangebied het.

Kapaailand was tweede.

Nog `n eie span, die Status Warriors, het die plaatafdeling gewen, die Ripa Rebels (Pretoria) het die komafdeling gewen en South Coast Crusaders, `n derde inskrywing van SCW, het die skild gewen.

Chris Mitchell is as die speler van die toernooi aangewys.

Arnold Kruger het die meeste drieë (agt) gedruk en met tien doelskoppe geslaag om `n persoonlike totaal van 60 punte daar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.