Scarlets vang Cheetahs aan die slaap in Pro14

Die Cheetahs-afrigter Franco Smith het die Scarlets se kwaaiste aanslag in die tweede helfte verwag, maar dit het Sondag net 19 minute geduur voordat die Walliese streekspan in Llanelli sy Pro14-bonuspuntdrie teen die Cheetahs gedruk het.

Die Springbok Uzair Cassiem het sommer in die tweede minuut al die Walliesers se rekening met ʼn drie geopen, en hulle was met 28-0 voor eerdat die Vrystaters hul oë kon uitvee.

Op die duur het die Scarlets net 46% balbesit en 49% gebiedsvoordeel geniet, maar teen daardie tyd was die slag gelewer. Die Scarlets het met 43-21 gewen.

Leigh Halfpenny, die Walliese toetsheelagter, het die eerste keer sedert hy in Oktober harsingskudding opgedoen het weer rugby gespeel, en het naas die binnesenter Paul Asquith die meeste slaankrag aan die wenspan se agterlyn besorg.

Veral Junior Pokomela (flank) en Dries Swanepoel (binnesenter) het vir die Cheetahs op die verdediging uitgeblink.

Die Cheetahs-vleuel Rabz Maxwane, die reeks se voorste driedrukker, het sy totaal met die drie wat hy aangeteken het tot 12 opgeskuif, en het nou vier meer as Duhan van der Merwe gedruk.

Die Scarlets is onveranderd vyfde in Afdeling B en die Cheetahs sesde in Afdeling A, maar eersgenoemde se kans om die uitspeelrondes te haal is nou heelwat beter.

Die Ierse provinsie Leinster, die verdedigende kampioen, het hom die naweek haas onaantasbaar as die voorloper in Afdeling A gevestig, met Benetton Treviso met 22 ligapunte agter hom in die tweede plek.

Sake verloop aansienlik mededingender in Afdeling B met ʼn enkele punt verskil tussen die Ierse provinsie Munster en die Skotse superklub Glasgow Wanderers.

Die Kings is steeds laaste in Afdeling B.

  • Vrydag in Dublin het Leinster, met dubbel die balbesit en gebiedsvoordeel wat die besoekers geniet het, die Kings met 59-19 oorweldig. Die Ierse provinsie was rustyd met 24-14 voor.

Dit was ʼn skrale troos vir die Kings dat hulle die gelykop stryd om omkeerbesit net-net gewen het, of veel beter dissipline as die tuisspan gehandhaaf het.

Die 37 verbroude duikslae het die wenspan nege drieë teen die Kings se drie besorg, en het saam met die Iere se oorheersing voorlangs die deurslag gegee.

  • Drie drieë binne die eerste halfuur deur die Suid-Afrikaans gebore Ierse toetshaker Rob Herring het die weg gebaan vir ʼn sege van 54-7 in Belfast vir die Ierse provinsie Ulster oor die Italiaanse klub Zebre (Parma).

Louis Ludik, ʼn gewese Sharks- en Lions-speler, het eweneens ʼn drie vir die wenspan gedruk, maar aan die keersy het hy vroeër in die kragmeting ʼn strafdrie afgestaan en ʼn geel kaart op die lyf geloop toe hy ʼn bal moedswillig afgeklap het.

  • Op Murrayfield het die Walliese streekspan Cardiff Blues merkwaardig teruggeveg om ʼn rustydagterstand van 0-14 teen die Skotse superklub Edinburgh in ʼn verrassende oorwinning van 19-17 te omskep.

Die tweede drie van ʼn tweekuns deur die bankvleuel Jason Harries, ʼn Walliese sewesspeler, het in die 70ste minuut die knoop deurgehak.

Jaco van der Walt, ʼn gewese SA Skolespeler wat Superrugby vir die Lions gespeel het, het sewe van Edinburgh se punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

  • Die Suid-Afrikaanse afrigter Johann van Graan se Munster-span moes in Swansea kwaai veg om ʼn verbete aanslag van die Walliese streekspan Ospreys af te slaan.

Die Ierse provinsie het uiteindelik met 19-13 gewen nadat hy rustyd met 14-10 voor was.

Die gewese Gasel-losskakel Hansie Dirksen se seun Hanno het die Ospreys se drie gedruk.

  • Die Skotse superklub Glasgow Warriors het op sy tuisveld, Scotstoun, binne die eerste minuut gaan druk om die Ierse provinsie Connacht op die ou end met 43-17 te verslaan (rustyd 24-5).

Brandon Thomson, ʼn gewese SA o. 20- en Stormers-speler, het 13 van Glasgow se punte met vyf doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

  • Die vaart, krag en vaardigheid van die Italiaanse klub Benetton Treviso se agterlyn het die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons op geheel en al die verkeerde voet betrap.

Die Italianers, wat rustyd met 31-7 voor was, het die wedstryd met 57-7 gewen.

Die puntemakers: 

Scarlets (43) – Drieë: Uzair Cassim, Johnny McNicholl, Josh McLeod, Kieron Fonotia, Wyn Jones, Paul Asquith. Doelskoppe: Dan Jones, Leigh Halfpenny (4). Strafdoele: Leigh Halfpenny.

Cheetahs (21) – Drieë: Benhard Janse van Rensburg, Rabz Maxwane, Gerhard Olivier. Doelskoppe: Tian Schoeman (3).

 

Leinster 59 – Drieë: Noel Reid (2), Ed Byrne (2), Barry Daly, Andrew Porter, Max Deegan, Patrick Patterson en Rory O’Loughlin. Doelskoppe: Ross Byrne (7).

Kings 19 – Drieë: Bjorn Basson, Sarel Pretorius, Ulrich Beyers. Doelskoppe: Werner Pretorius (2).

 

Ulster 54 – Drieë: Rob Herring (3), Rob Lyttle, Louis Ludik, Robert Baloucoune, Peter Nelson, strafdrie. Doelskoppe: Rob Lyttle (6).

Zebre 7 – Drie: Strafdrie.

 

Glasgow Warriors 43 – Drieë: George Horne, Tim Swinson, Grant Stewart (2), Robbie Nairn (2). Doelskoppe: Brandon Thomson (5). Strafdoel: Brandon Thomson.

Connacht 17 – Drieë: Stephen Fitzgerald, Paul Boyle, Tom Daly. Doelskop: Kyle Godwin.

 

Ospreys 13 – Drie: Hanno Dirksen. Doelskop: Luke Price. Strafdoele: Luke Price (2).

Munster 19 – Drieë: Darren Sweetnam, Mike Haley, strafdrie. Doelskop: JJ Hanrahan.

 

Benetton Treviso 57 – Drieë: Antonio Rizzi, Iliesa Ratuva Tavuyara, Luca Sperandio (2), Monty Ioane, Giovanni Pettinelli, Niccolo Cannone (2), Robert Barbieri. Doelskoppe: Antonio Rizzi (6).

Newport Gwent Dragons 7 – Drie: Jared Rosser. Doelskop: Jason Tovey.

 

Edinburgh 17 – Drieë: Nathan Fowles, Bill Mata. Doelskoppe: Jaco van der Walt (2). Strafdoel: Jaco van der Walt.

Cardiff Blues 19 – Drieë: Lloyd Williams, Jason Harries (2). Doelskoppe: Jarrod Evans (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.