Schalk Burger terug in Springbokke se groep

Schalk Burger

Schalk Burger

Die ervare Springbokflank Schalk Burger (71 toetse) sal nog Vrydag vir sy Japanse klub speel en hom daarna in Kaapstad by die Springbokgroep aansluit in die plek van die beseerde François Louw

Burger het in al vier die Springbokke se wedstryde in Junie gespeel en ‘n suksesvolle terugkeer tot toetsrugby gemaak. Hy was nie vir die eerste vier rondes van die Rugbykampioenskap beskikbaar nie.

Heyneke Meyer het bevestig dat Siya Kolisi ook ‘n opsie was, maar hy is oor die naweek beseer en kan ‘n maand lank nie speel nie.

“Ek is jammer vir Siya, wat weer goeie vorm begin toon het, maar dit is ook lekker om Schalk in die groep terug te hê.  Met Willem Alberts wat nog beseer is, kan Schalk dekking vir enigeen van die losvoorspelers verskaf.

‘Hy is ook ervare, het leierskapkwaliteite en sal maklik in die groep aanpas. Hy het in Junie ‘n uitstekende mentorsrol vir die jong spelers vervul en kan daarmee voortgaan, veral met spelers soos Oupa Mohoje en Warren Whiteley in die groep.”

Meyer het bygevoeg dat Mohoje baie goed vaar in sy debuutseisoen en die gaping kan vul wat deur Alberts en Louw gelaat is.

“Hy is ‘n sterk baldraer, vinnig en hardwerkend op die verdediging en ook ‘n goeie opsie agter in die lynstaan.”

Hiervolgens wil dit lyk of Juan Smith, wat in Salta teen die Poemas gespeel het, nog nie gereed is vir heropname in die groep nie.

Die Springbokgroep trek Maandag in Kaapstad saam vir die toetse teen die Wallabies (27 September op Nuweland) en die All Blacks (4 Oktober op Ellispark).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conrad ·

Ek sk$%t in my broek as HM vir Schalk in die beginspan gaan sit en nie vir Warren Whiteley nie. Dit sal m@*rse onregverdig wees teenoor Warren om plek te moet maak vir n oorseese speler.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.