Schoeman maak Saterdag Skotse buiging

Pierre Schoeman. Foto: Twitter.

Pierre Schoeman, oudleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool en voormalige Bloubul-stut, maak Saterdag sy Skotse buiging op Murrayfield in hul wedstryd teen Tonga.

Die 27-jarige voorspeler speel deesdae vir Edinburgh nadat hy in 35 Superrugbywedstryde vir die Bulls in aksie was.

“Dit sal vreemd wees om die Skotse volkslied te sing, maar die ‘Flower of Scotland’ is darem maklik om te leer,” het Schoeman vroeër in ’n onderhoud met RugbyPass geskerts.

Die Springbokke speel juis op 13 November teen die Skotte in Edinburgh en die stut sal graag teen sy geboorteland wil speel.

“Dit sal ’n ongelooflike eer wees om in daardie wedstryd te speel – veral omdat dit ook op Murrayfield is. Daar sal egter beslis ’n paar dinge op die veld gesê word!”

Nog twee Suid-Afrikaans gebore spelers – Oli Kebble en Kyle Steyn – is ook deel van die Skotte se planne om Tonga te tem.

Saterdag se wedstryd begin om 15:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Skotland: Darcy Graham (heelagter), Kyle Steyn (regtervleuel), Sione Tuipulotu (buitesenter), Sam Johnson (binnesenter), Rufus McLean (linkervleuel), Blair Kinghorn (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Matt Fagerson (agtsteman), Hamish Watson (flank), Jamie Ritchie (flank), Rob Harley (slot), Jamie Hodgson (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Pierre Schoeman (stut). Plaasvervangers: Stuart McInally, Jamie Bhatti, Oli Kebble, Marshall Sykes, Luke Crosbie, Nick Haining, Jamie Dobie en Ross Thomson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louis ·

Ai jong. Kon jy nie maar bietjie wag? Rassie hulle kies oorsese manne deesdae.

piet ·

Hy lyk nou in baie beter vorm fisiek as toe hy vir die Bulle gespeel het.

Willi ·

Maak mens se hart bly om te sien ons rugby spelers doen goed oorsee. Wens meer spelers wil oorsee gaan speel om te ontvlug van hierdie BLM gemors en rassistiese politiek in die land.

piet ·

Baie geld, wie sou nie oorsee wil speel as jy goed is nie. Sou dom wees om nie te gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.