Sean en Jake kies hul spanne

Foto: GB Jordaan.

Die slagordes is opgestel vir die naweek se Curriebeker-eindstryd op Loftus Versfeld met Sean Everitt en Jake White wat hul beginvyftientalle vir die kragmeting aangekondig het.

Die Bulle het weer eens ’n gedugte pak losvoorspelers gekies, terwyl Stravino Jacobs en Marco Jansen van Vuren hul plekke in die agterlyn behou. Arno Botha en Embrose Papier sal vir die ervaring onder die plaasvervangers sorg.

Daarteenoor het die Haaie vir Jaden Hendrikse op skrumskakel gekies, terwyl Sanele Nohamba – wat verlede week aan die ontvangkant van ’n reuseplettervat teen die WP was – na die plaasvervangersbank skuif.

Die res van die span is onveranderd van die een wat die Westelike Provinsie op Nuweland geklop het.

Foto: GB Jordaan.

“Ons het weliswaar ons plek in die eindstryd verseker, maar ons moet steeds 80 minute se rugby speel. Ons teenstanders wil net so graag die trofee huis toe neem, terwyl ons alles in ons vermoë sal doen om toe te sien dat die beker weer staanplek op Loftus Versfeld sal kry,” het die Bulle se White gesê.

Daarteenoor is die Haaie se Sikhumbuzo Notshe opgewonde om teen die Ligbloues te speel.

“Dit gaan ’n baie spesiale geleentheid wees omdat verskeie lede van ons span nog nooit in ’n eindstryd gespeel het nie. Ons voorspelers het verlede week goed die mas teen die WP opgekom en ons sal iets soortgelyks in Pretoria moet opdis,” het Notshe gesê.

  • Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Haaie: Aphelele Fassi (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter en kaptein), Marius Louw (binnesenter), Yaw Penxe (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Henco Venter (flank), Dylan Richardson (flank), Ruben van Heerden (slot), JJ van der Mescht (slot), Thomas du Toit (stut), Fezokhule Mbatha (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Daniel Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Sanele Nohamba, Jeremy Ward en Manie Libbok.

Blou Bulle: David Kriel (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Marco Jansen van Vuren (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman en kaptein), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortje (slot), Sintu Manjezi (slot), Trevor Nyakane (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Jacques van Rooyen, Mornay Smith, Jan Uys, Arno Botha, Embrose Papier, Chris Smith en Marnus Potgieter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.