`Seblief, prof, gee hom net een kans

Johan Roux

Johan Roux

Hou maar die flank Matt Gilbert dop wanneer die Worcester Warriors weer in die Engelse Premierliga speel.

Gilbert (30), wat reeds 11 keer vir Engeland se dowe span gespeel het, is sover bekend die enigste dowe beroepspeler in die Premierliga.

Maar Matt laat hom nie daardeur onderkry nie en het vroeg in sy loopbaan, wat draaie by die Llanelli Scarlets in Wallis, Mogliano in Italië en Bath in Engeland ingesluit het, `n dure les geleer.

In 2010, toe hy vir die Scarlets gespeel het, het hy die ervare skeidsregter Nigel Owens genader oor sy doofheid. Hy het aan Owens probeer verduidelik dat hy niks kan hoor nie en dat hy dus nie op sy opdragte en bevele kan reageer nie.

Owens wou niks daarvan weet nie. “Gaan weg, jy’s is `n beroepspeler en ken die reëls.”

Gilbert, wat met `n spesiale ingeboude gehoorstuk onder sy kopskerm speel, maak ook van lippetaal gebruik om die opdragte van sy kaptein en spanmaats uit te voer.

Dit laat my terugdink aan Johan Roux, wat tussen 1994 en 1996 12 keer skrumskakel vir die Bokke gespeel het, toe hy die Leeus in ‘n Vodacombeker-wedstryd aangevoer het.

Die Leeus het `n jong flank van Zimbabwe gehad wat nie nie `n woord Afrikaans verstaan het nie. Hy was vurig en het hom nie juis aan die reëls gesteur nie.

Prof Johan Gouws, wat aan die einde van sy loopbaan was, was die skeidsregter en sy geduld is tot die uiterste beroef. Maar toe die man die soveelste oortreding ná `n laaste waarskuwing begaan het, het Gouws genoeg gehad en na `n kaart in sy sak gemik.

Roux het besef daar’s groot moeilkheid.  “’Seblief, prof, gee hom nog net een kans … hy’s doofstom.”

Gouws het ingestem, die Leeus het die man onmiddellik hierna vervang en kon die wedstryd met 15 man voltooi … en wen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.