Selfs All Blacks-man tussen Carltonafrigters

Nico le Roux (Foto: YouTube)

Nico le Roux (Foto: YouTube)

Daar is selfs ʼn man wat die magtige All Blacks help slyp het tussen die sestal uitgelese afrigters wat besig is om nuwe status aan die Blou Bulle se Carltonliga te verleen.

Naas groter mededingendheid verlede jaar in die liga, het hulle verseker dat dié klubs die Noorderbonde se huidige Assupolreeks oorheers, met slegs die Universiteit van Johannesburg (UJ) se o.21-span van buite die Carltondampkring in Saterdag se Groep A-eindstryde.

♦ Nico le Roux, die afrigter van die Goue Bekerhouer, Rustenburg Impala – en wat verlede jaar as die SA klubafrigter van die jaar bekroon is – was die All Blacks se tegniese adviseur toe die huidige Amerikaanse afrigter John Mitchell die Nieu-Seelanders gebrei het. Voor dit het hy (Le Roux) die Waikato Chiefs in dieselfde hoedanigheid gedien en insgelyks ʼn draai by die Bolandse Kavaliers gemaak.

♦ Chris Buitendach van die Tukkies was die Blou Bulle se medeafrigter toe hulle in 1998 die Curriebeker gewen het. Hy is tans ook die voorspelerafrigter van die nasionale span van Pole, wat terloops, Saterdag in die reeks om die Rugby Europatrofee teen Moldawië speel. Die Pretoriase studente het verlede jaar onder sy hand Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) se kampioenskap gewen.

♦ Quins-Bobbies-rugby (QBR) se Nico Luus, wat as speler oor die 150 wedstryde vir die Valke gespeel en legendestatus in die Carltonliga verwerf het, word as een van die belowendste afrigters in die land beskou.

♦ Riaan Brandt is die man wat die lof verdien vir Centurion se prestasie om verlede jaar die eerste keer sedert 1999 weer die Carltonbeker te wen. Hy was in 2015 die medeafrigter van die Blou Bulle se amateurspan wat die nasionale kampioenskap ingepalm het.

♦ Die Naka Bulle se Marinus van der Watt het as afrigter van die Blou Bul-sewesspan verskeie kere die provinsiale toernooi gewen. Hy het ʼn wesenlike rol in Naka se herontwaking gespeel en reis gereeld Duitsland toe waar hy Kobus Potgieter en Pieter Jordaan, die afrigters van die nasionale span, onder meer met die slyp van fiksheid en vaardighede bystaan.

♦ Johan du Toit van die Dragons is ʼn gewese hulpafrigter van die Pumas se Curriebeker-span uit die dae toe Jimmy Stonehouse die hoofafrigter was en was ʼn hoofafrigter van die Valke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.