Selfs die All Blacks voel neerlaag op die ranglys

Wêreldrugby se ranglys word volgens ʼn ingewikkelde formule bepaal, maar is soos al sulke goed hoogstens net ʼn aanduiding van wat in toetsrugby aangaan.

Met eintlik net die Suidelike Halfrond se spanne wat tans speel, is verandering op die ranglys tot hulle beperk.

Dit is nietemin met ʼn bietjie lekkerkry dat jy sien dat die Wallabies, wat in Januarie vanjaar nog derde op die ranglys was, nou sewende is. Hulle het Maandag van 86,35 punte tóé tot 82,45 punte geval.

Dit is die heel laagste posisie wat die Wallabies nóg beklee het en volg nadat hulle Saterdag teen die Poemas verloor het.

Suid-Afrika het daarenteen van die sewende plek na vyfde geklim nadat die Springbokke Saterdag met die All Blacks afgereken het. In Januarie was die Bokke (81,79) in die sesde plek en 12,99 punte agter die All Blacks.

Nou, in die vyfde plek met hul 83,35 punte, is hulle 9,17 punte agter Nieu-Seeland.

♦ Die effek van ʼn neerlaag is selfs vir die All Blacks ʼn terugslag. Hulle word harder gestraf vir enige neerlaag omdat dit teen ʼn span laer op die ranglys is.

Dié keer het hulle 2,40 punte verloor en Ierland is, sonder dat hulle sedert hul reekssege in Junie teen die Aussies weer gespeel het, nou net 2,40 punte agter Nieu-Seeland.

Die Poemas het twee punte verdien, maar is steeds negende ná Frankryk.

Die voorste 20 spanne ná Maandag se bekendmaking van die jongste ranglys ‒

1. Nieu-Seeland 92,52
2. Ierland 90,12
3. Wallis 85,94
4. Engeland 85,68
  5. Suid-Afrika 83,35
6. Skotland 83,02
7. Australië 82,45 
8. Frankryk 79,10
9. Argentinië 79,02
10. Fidji 76,54
11. Japan 75,24
12. Tonga 73,84
13. Georgië 73,13
14. Italië 72,56
15. VSA 71,66
16. Samoa 68,28
17. Roemenië 68,25
18. Uruguay 65,37
19. Rusland 64,89
20. Spanje 63,09

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Albert ·

Ek kan nie dink dat n span wat een wedstryd wen skielik met twee plekke kan spring dit is n klug om te se die AB wat net een wedstryd verloor met soveel gepenaliseer word. Dit lyk vir my as die AB wen kry hulle n punt maar verloor hulle word daar byna drie af getrek, waar dit anders om moet wees want hulle is die wereld kampioen.

Wesley ·

Dit is nogal n kopkrapper, maar glo dit is aan die einde regverdig om dinge so te bepaal. Dit is maar ook net n handwysing vir wereldrugby om hul wereldbeker beplanings en lootjies agtermekaar te kry en nie te veel om ingelees te word deur die publiek nie, alhoewel dit nogal vermaaklik is. As jy bo-op die ranglys is, moet jy harder werk om daar te bly, en wie intussen is moet probeer verhoed dat die onder hul nie teen hul moet wen nie, veral op jou tuisveld. Jy word dan ook swaar gepenaliseer as dit gebeur, soos ons wat verloor het teen Eng in die 3de toets, alhoewel ons hul in die eerste 2 geklop het.

JJ ·

Ek weet nie eens hoekom dit nog so belangrik is vir mense nie. Al wat jy hoor is klagte op klagte vir wat in ZA aangaan en dan kom saterdag skree almal vir die bokke. Ek skud maar net my kop. Ek stem dat een ou oorwinningkie nou nie rerig enige verskil maak nie. OZ wen bokke, ARG wen OZ, ZA wen AB’s, so is ARG nou die beste span?

nico k ·

Albert jy verstaan nie. Dit is tog sekerlik ‘n groter prestasie vir SA om teen NZ te wen as om teen Spanje te wen. Wil jy nou dat NZ moet styg op die punte leer as hulle teen Spanje wen?

Dries ·

Dit is hoe rugby tussen Sa en Nz gespeel was.
Onthou nog die toets in Bloemfontein
1960
Telling 11 elk

Niklaas ·

Die prentjie op die ranglys sal natuurlik nog beter lyk as ons Aus asook NZ hier in SA klop. Nie onmoontlik nie , maar veral die gewonde ABs is vreeslik onder druk om ons groot pak slae hier te gee. Daai Loftus pawiljoen gaan baie voller as gewoonlik wees , glo ek. Dalks is alle kaartjies ten volle uitverkoop vir daardie dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.