Senatla-hulle se afwesigheid pla Powell nie te veel nie

springbok-sevens-greenVier uit vier eindstryde dusver in Wêreldrugby se sewesreeks waarvan drie gewen is, sal die naweek in Las Vegas aan die Blitsbokke die selfvertroue gee om hul voorsprong van 17 punte op die puntelys te vergroot.

Vir hulle ondersteuners in Suid-Afrika is daar ook die groot uitdaging om in die klein uurtjies van die oggend hulle span se aanslag op sukses op televisie dop te hou.

Twee van die drie groepwedstryde word in slapenstyd in Suid-Afrika gespeel en een vroegerig  Saterdagoggend.

Die span van Philip Snyman spring Saterdagoggend 04:43 weg teen Kanada, wat die afgelope seisoen of wat al hoe meer probleme vir die voorste spanne verskaf.

Die Blitse se wisselvalligheid in die groepfase is een van hulle swakpunte, maar ook ʼn sterkpunt omdat hulle daarna dikwels onderskat word.

Die Blitsbokke behoort nietemin redelik maklik teen Kanada te wen, maar die afrigter Neil Powell se wens is dat hulle hul wenmomentum sal behou en deurgaans bestendig is.

Oor die verlies van Kwagga Smit en Seabelo Senatla wat nou Superrugby speel (Senatla is Sondag en Maandag by die Springbok-oefenkamp) en ook van die die beseerdes Kyle Brown en Tim Agaba is Powell nie te negatief nie.

“Die nuwe ouens behoort in te skakel sonder dat ons ritme inboet. Ons behoort reg te wees. Hulle weet wat hulle rolle is en ek glo in hulle.”

Powell verwag veral baie van Siviwe Soyizwapi wat vir Senatla vervang het. “Ek verwag dat hy baie mense gaan verras.”

♦  Die Bokke speel 04:43 Saterdagoggend teen Kanada, 07:42 teen Frankryk en 02:08 Sondagoggend teen Wallis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

F ·

Alhoewel baie mense nie saam met my sal stem nie gaan die Bokkies vir Kwagga meer mis as Senatla. Die wedstryde vanoggend was dit duidelik dat die Bokkies te veel bal besit verloor op die grond. Jy kan nie speel sonder bal in die hand nie, en hoe vinniger dit beskikbaar gestel te beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.