Senutergende twee jaar lê vir Duitse rugby voor

Raynor Parkinson – voorste skopper. (Foto: Jürgen Kessler/DRV)

Raynor Parkinson – voorste skopper. (Foto: Jürgen Kessler/DRV)

ʼn Senutergende twee seisoene lê vir die Duitse rugbyspan met sy talle Suid-Afrikaners in die Rugby Europa-kampioenskap voor.

ʼn Tweede plek in dié reeks (oor twee jaar) sal hom vanselfsprekend vir die eerskomende toernooi om die Wêreldbeker in aanmerking laat kom. Dit beteken egter hy mag nie in die twee seisoen wat voorlê teen België, Rusland en Spanje verloor nie.

Saterdag kom hy in Offenbach teen België te staan.

Desondanks Duitsland se prestasie om Roemenië te klop, is dit nog vroeg in vanjaar se reeks en is hy in dié stadium vyfde uit die ses lande op die punteleer.

België is laaste en dit kan die Swarte Duiwels ekstra aansporing gee om Duitsland te klop, juis omdat daar min tussen die twee spanne te kies is.

Kobus Potgieter, die gewese Tukkie, wat Duitsland afrig, sê die Belge is ʼn moeilike span om teen te speel, en die Duitsers sal hard moet werk en verbeter op hul afgelope vertoning teen Georgië.

“As ons ons taak behoorlik verrig, glo ek ons sal suksesvol wees. Ons het ʼn baie goeie week van voorbereiding agter die rug.

Raynor Parkinson, ʼn gewese losskakel van die Universiteit van Johannesburg, is tweede op die lys puntemakers in die reeks. Sy 22 punte is vier minder as die voorloper, Florin Vlaicu van Roemenië, se 26. Vlaicu se punte sluit ʼn drie in, wat Parkinson die voorste skopper in die reeks maak.
Roemenië behoort Rusland Saterdag in dieselfde reeks in Sotsji te klop, maar dit is ʼn kragmeting wat baie gelykop kan verloop.

Georgië is die volstrekte gunsteling om sy wedstryd teen Spanje in Meduna del Capo te wen.

In die reeks om die Rugby Europatrofee sê die voorlopers Nederland en Portugal mekaar in Amsterdam die stryd aan.

Nederland is ʼn enkele punt voor Portugal op die punteleer, en hoewel die Wolwe hoër op die wêreldranglys staan, word die Here Vyftien met ʼn kortkop as die gunsteling beskou.

In Afdeling 2 (Suid) van die Europese reekse speel Bosnië en Herzegovina tuis teen Turkye in Zenica.

Dis die twee agterosse in dié groep, en die besoekers – wat nog nie lid van Wêreldrugby is, en gevolglik nog nie op die ranglys is nie – word oorweldigend as die gunsteling beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dutchie ·

die duitse span het dus suidafrikaners in die span wat van kleins af aan al rugby gespeel het maar die nederlanders doen dit op die krag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.